Statebondspele: Alle oë op Birmingham

Die Amerikaners spog reeds met 28 medaljes op die voorlaaste dag, gevolg deur Ethiopië (10), Kenia (8) en Jamaika (7). (Foto: Hannah Peters / AFP)

Die Wêreldatletiekkampioenskap wat Sondagaand in Eugene, Oregon, in die VSA ten einde loop, was ʼn misoes wat medaljes vir die Suid-Afrikaanse span betref, maar tog was daar ʼn paar sprankies hoop vir die toekoms met atlete wat hul beste tye en afstande verbeter het.

Soos algemeen verwag het die Amerikaners kop en skouers uitgetroon en spog hulle reeds met 28 medaljes op die voorlaaste dag, gevolg deur Ethiopië (10), Kenia (8) en Jamaika (7).

Die kollig verskuif nou na Birmingham in Engeland wanneer die 22ste Statebondspele van Donderdag (28 Julie) tot Maandag (8 Augustus) plaasvind.

Weet maar gewis dat die Suid-Afrikaanse span medaljes sal inoes.

Suid-Afrika het die eerste keer in 1930 in Hamilton in Nieu-Seeland aan die Statebondspele deelgeneem en met die intrapslag 18 medaljes (ses goud, vier silwer en agt brons medaljes) gewen.

Suid-Afrika het slegs aan 13 van die vorige 21 Statebondspele deelgeneem en was van 1961 in die sportwoestyn tot en met 1994, toe die Statebondspele in Victoria aangebied is.

Tot dusver het Suid-Afrika 389 medaljes gewen en is hy sesde op die algehele medaljetabel, met Australië wat reeds met 2 415 medaljes pronk.

Suid-Afrika se beste vertoning was in 2002 in Manchester in Engeland toe die span 45 medaljes (nege goud, 20 silwer en 16 brons medaljes) gewen het.

Suid-Afrika het tydens die vorige Statebondspele in 2018 aan die Australiese Goudkus 37 medaljes gewen (13 goud, 11 silwer en 13 brons). Nege hiervan was deur atlete met gestremdhede.

Volgens die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) stuur Suid-Afrika vanjaar sy grootste span nóg na ʼn Statebondspele, bestaande uit 250 deelnemers. Dit is 56 deelnemers meer as die span wat in 2018 in Australië aan die vorige Statebondspele deelgeneem het.

Daar sal in 20 verskillende sportsoorte teen 71 ander lande wat genooi is, meegeding word.

Suid-Afrika sal sy hoop vestig op die atletiekspan en swemmers asook die hokkie-, fietsry-, netbal- en sewesrugbyspan om medaljes in te oes.

Die atletiekspan ruk sonder Wayde van Niekerk, Caster Semenya, Carina Horn en Ruswahl Samaai na Birmingham op, maar daar is, sonder die Amerikaners wat wêreldatletiek oorheers, groot verwagtinge.

Die swemspan vestig sy hoop op Chad le Clos, Matthew Sates en Pieter Coetzé (mans) en Tatjana Schoenmaker, Kaylene Corbett, Lara van Niekerk en Erin Gallacher (vroue).

Suid-Afrika se nasionale sewesrugbyspan se strafste teenstand is Nieu-Seeland, Fidji, Australië, Samoa en Engeland, maar ʼn medalje wink.

Suid-Afrika (Durban) moes vanjaar se Statebondspele aangebied het, maar die regering het weens die enorme finansiële verpligtinge wat daar op die geldkoffers van Durban sou rus, genadiglik besluit om nie daarmee voort te gaan nie.

Volgens die jongste inligting sal vanjaar se Statebondspele £778 miljoen (bykans R15 miljard) kos waarvan die Britse regering 75% sal bydra en die stadsvaders van Birmingham die res.

Die atlete sal op drie kampusse van die Universiteit van Birmingham (2 800 deelnemers) en Warwick (1 600) asook die NEC-hotelkampus (1 600) gehuisves word.

Na verwagting sal sowat een miljoen toeskouers deur die hekke stroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.