Tientalle oorsese universiteite vry na jong Pretoriase atletieksensasie

Antoinette van der Merwe. Foto: Verskaf.

Op 19-jarige ouderdom is baie jong mense nog onseker oor watter loopbaanrigting hulle moet inslaan, om nie eens van die kopkrap-dilemma van die regte universiteit te praat nie.

Maar die jong Pretorianer, Antoinette van der Merwe (19), het die atletiekwêreld aan haar voete. Want gedurende die Noord-Gauteng Atletiekkampioenskap – daar in die dae vóór die staat van inperking – het sy die 100 m in ’n spogtyd van 11,49 sekondes afgeblits.

Nie net is dit die vinnigste tyd deur ’n junior atleet vanjaar nie, maar sy is tans ook die naasvinnigste senior vrou in die land.

Kort voor lank het haar selfoon aanhoudend begin lui – haar prestasies het universiteite van oor die wêreld laat regop sit om die tjekboeke nader te trek.

“Volgens Munya Maraire, die uitvoerende hoof van World Wide Scholarships (WWS) wat namens my die navrae gerig het, is daar 95 universiteite wat belangstel om beurse aan my toe te ken. Ek het glad nie sulke belangstelling verwag nie en voel regtig baie bevoorreg,” het sy vroeër die week aan Maroela Media gesê.

Van der Merwe is tans ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria en vertel dat sy ongetwyfeld na die raad van haar afrigter en die WWS sal luister om ’n ingeligte besluit te neem. Want hoewel sy reeds ’n kortlys neergepen het, is die finale besluit waarskynlik nie die maklikste nie.

“Met die Junior Wêreldbyeenkoms wat weens die Covid-19-pandemie tot 2021 uitgestel is, moet ek nou noodgedwonge nuwe senior atletiekdoelwitte vir myself stel. Ek is egter ook besig om al my opsies binne Suid-Afrika te ondersoek voordat ek ’n besluit sal neem. In Suid-Afrika weet ek wat ek het aan ’n ongelooflike afrigtingspan, oefenmaats en om vir Tuks te hardloop.”

Sy hardloop al die afgelope 13 jaar onder die bekwame leiding van haar afrigter, Wimpie Nel, en sy benadering om atlete eers op ’n latere ouderdom te ontwikkel, tel beslis nou in haar guns.

Kom ons vra ’n vinnige en eenvoudige vraag: Wat maak atletiek vir haar lekker?

Ja, daar is die vriendskappe wat gesmee word en daar heers gesonde kompetisie tussen die atlete, maar soms is werklike vreugde opgesluit in ’n maklike antwoord.

Foto: Verskaf.

“Persoonlik is dit net eenvoudig lekker om teen spoed te beweeg en myself te druk na die beste wat God vir my bestem het om te wees. Daar is niks soos spoed om my hart vinnig en opgewonde te laat klop nie!”

Die staat van inperking het natuurlik ’n invloed op haar fiksheid en voorbereiding gehad, maar sy is vol lof vir die wyse waarop Nel die beste van die situasie gemaak het.

“Hy het met elke fase van die inperking my oefenplan daarvolgens aangepas sodat ek steeds nuwe doelwitte kon bereik. Dit was ’n kombinasie van versterkingsoefeninge in die begin van die afsonderingstyd, terwyl dit later na oefening op die pad oorbeweeg het.”

So van doelwitte gepraat, daar is nog baie wat sy in haar atletiekloopbaan wil bereik.

“Ek wil vir Suid-Afrika op senior vlak by groot kampioenskappe – soos die Olimpiese Spele, Wêreldkampioenskap en die Statebondspele – verteenwoordig. Dit is my droom en iets waarvoor ek baie hard sal werk.”

Sy verwelkom senuwees vóór ’n wedloop omdat dit sorg dat die adrenalien deur haar are bruis, terwyl sy nooit werklik motivering moet soek om haar bes te lewer nie – “dit is iets wat natuurlik saam met my liefde vir hardloop kom”.

“Daar is soveel mense wat God op die regte tyd en plek in my lewe gebring het wat bygedra het tot die atleet wat ek vandag is. ”

En met hierdie ondersteuning, haar geloof en natuurlike talent, kan Antoinette van der Merwe nog diep spore in wêreldatletiek trap.

Haar beste tye:

100 m: 11,49 sekondes

100 m: 13,81 sekondes

200 m: 23,90 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AmY ·

Wow, jy is fantasies!!!
As ek jy was, sou ek beslis een van daai beurse gevat het.

Vrijburger ·

Vat ‘n buitlandse beurs! En bly lank genoeg sodat jy burgerskap kan kry (dus dubbele burgerskap). Dit is voor die handliggend logiese besluit om te doen.

Niklaas ·

Propvol talent met baie potensiaal. Gaan oorsee meisie, spoedig. As ek so kykna ons minister van sport se denkwyse en uitsprake sal ek vinnig skoert.

Ronel ·

Die enigste opsie wat sy moet oorweeg is watter oorsese universiteit se beurs sy moet aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.