Topatlete gaan in Pietermaritzburg spiere bult

Marioné Fourie seil oor ’n hekkie. (Foto: GB Jordaan)

Op jou merke, gereed, gáán!

Daar wag ʼn paar watertanditems op atletiekliefhebbers by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale kampioenskap in Pietermaritzburg.

Sterre soos Akani Simbine, Wayde van Niekerk en Marioné Fourie sal van Donderdag tot Sondag alles in die stryd werp om op die hoogste trappie van die Suid-Afrikaanse atletiekpodium te staan.

Die 30-jarige Simbine sal in die 100 m-wedloop kragte teen opkomende sterre soos Cheswill Johnson en Gift Leotlela meet.

Die blits van Sentraal-Gauteng het in Februarie die Suid-Afrikaanse rekord oor 150 m na ʼn spoggerige 15.04 s by sy Curro Classic Shootout-byeenkoms op Pilditch verbeter.

ʼn Maand later was hy agter Botswana se Letsile Tebogo in ʼn 200 m-tweestryd in Johannesburg.

Die 20-jarige Tebogo het die afstand in 19.94 s afgeblits, met Simbine tweede met sy tyd van 20.32 s.

Die verdedigende 100 m-kampioen (hy het die item verlede jaar in 10.14 s gewen nadat hy in die uitdunronde 9.98 s gehardloop het) is egter oorgehaal om sy titel te verdedig.

“Ek is volgende by die nasionale kampioenskap in aksie en wil my daar goed van my taak kwyt. Ek gaan die 100 m hardloop,” het Simbine gesê.

Dan sal Wayde van Niekerk by die wegspring van die 200 m aantree.

Die wêreldrekordhouer oor 400 m sal in die kleure van die Boland deelneem en hy sal onder meer teen Clarence Munyai en Sinesipho Dambile te staan kom.

ʼn Ernstige kniebesering het vroeër gedreig om Van Niekerk se atletiekloopbaan te ontspoor, maar te danke aan sy deursettingsvermoë en harde werk is hy weer terug op die internasionale verhoog.

Hy het verlede jaar ʼn 400 m-tyd van 44.08 s in Pole gehardloop, maar hy het uiteindelik sewende by die Wêreldkampioenskap in Boedapest geëindig.

In die vroueafdeling kan Marioné Fourie, Jo-Ané van Dyk en Alicia Khunou in die kollig skitter.

Fourie is die nasionale rekordhouer in die 100 m-hekkiesitem nadat sy verlede jaar met ʼn tyd van 12.55 s in Switserland laat waai het.

Sy het al vantevore aan Maroela Media gesê dat sy baie hard werk om onder die voorste internasionale atlete in haar item te tel en sukses by die nasionale kampioenskap is ongetwyfeld ʼn tree in die regte rigting.

Op haar beurt is Van Dyk ook aan die brand met ʼn topgooi van 60,80 m by die Afrika-spele in Ghana, terwyl die 17-jarige Khunou een van Suid-Afrika se blinkste atletieksterre is.

Sy het in 2023 nie net die goue medalje in die diskusitem met haar puik poging van 49,53 m by die Statebond-Jeugspele ingeoes nie, maar ook die rekord in die gewigstootitem na 17,97 m verbeter.

Die kampioenskap is van Donderdag tot Sondag en die aksie word op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.