Vier op ʼn streep vir goue Gerda!

Gerda Steyn het wéér die Twee Oseane-marathon gewen. (Foto: Twitter/Two Oceans)

Vergeet maar van goud; Gerda Steyn verdien ongetwyfeld platinumstatus! Die 33-jarige atleet het vir die vierde keer op ʼn streep met die louere in die Twee Oseane-marathon weggehardloop.

Sy het die 56 km in ʼn spogtyd van 3:29:06 voltooi; 36 sekondes vinniger as haar eie wedlooprekord van 3:29:42 wat sy verlede jaar opgestel het.

Die Suid-Afrikaanse padwedloopheldin het omtrent stof in die oë van die ander atlete geskop: Sy was aansienlik vinniger as Amelework Fikadu Bosho van Ethiopië wat tweede oor die eindstreep in ʼn tyd van 3:41:29 was.

Steyn se drafgetuigskrif sorg ongetwyfeld vir indrukwekkende leesstof; daar is die Comrades-rekord, die sterk Olimpiese vertoning in Japan en die gereelde uitblinksessies by van die wêreld se grootste wedlope.

En as Irvette van Zyl nie op die krukkelys was nie, sou daar vandag selfs meer oë op die wedloophorlosie gewees het.

Steyn het juis in aanloop tot die marathon gesê dat Van Zyl haar aanspoor om selfs op ʼn hoër vlak te presteer.

In die mansafdeling het Zimbabwe se Givemore Mudzinganyama op die boonste trappie van die podium gestaan nadat hy die marathon in ʼn tyd van 3:09:56 voltooi het.

Suid-Afrika se Dan Matshailwe was tweede met sy tyd van 3:10:19.

  • Steyn se tye in die Twee Oseane-marathon:

2023: 3:29:06

2022: 3:29:42

2019: 3:31:28

2018: 3:39:31

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.