Wayde kyk verder as sy 200 m-goud

Wayde van Niekerk. Foto: Andrey Isakovic/AFP.

Wayde van Niekerk het Saterdag die 200 m in ’n tyd van 20,38 sekondes by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Pretoria gewen.

Dit is egter nog 0,14 sekondes buite die Olimpiese kwalifiserende tyd en die 28-jarige naelloper het erken dat hy nog nie op alle silinders vuur nie.

“Sielkundig is ek nog nie heeltemal waar ek moet wees nie. Daarbenewens het ek – met die oog op die toekoms – kwaai oefensessies in die aanloop tot die wedloop gehad en ek was taamlik moeg gewees,” het Van Niekerk gesê.

Tog was dit ook lekker om weer op die wenpad te wees, hoewel hy nog nie aangedui het of hy ooit vir die Olimpiese 200 m wil kwalifiseer nie.

Van Niekerk het in 2016 tydens die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro die verbeelding van die atletiekwêreld aangegryp toe hy Michael Johnson se 400 m-rekord tot 43,03 sekondes verbeter het. Die Amerikaanse ster se rekord het vir 17 jaar gestaan.

Sedertdien het hy ’n bietjie die wind van voor gekry.

Hy het intussen ’n kniebesering tydens ’n raakrugby-wedstryd opgedoen, terwyl hy ook positief vir Covid-19 getoets het.

“Dit is my doelwit om weer teen die beste ter wêreld te hardloop en hierdie titel is ’n tree in die regte rigting.”

Die Pretoria-wedloop was sy laaste een in Suid-Afrika voordat hy na die VSA vertrek.

Van Niekerk sal voortaan saam met Lance Brauman in Florida oefen. Hy moes eintlik al verlede week in die VSA gewees het, maar ’n gesukkel om die nodige reisdokumente gereed te kry, het gesorg dat hy in Pretoria kon hardloop.

Die skuif na Amerika beteken dat hy en sy gewilde afrigter, die 79-jarige Ans Botha saam met wie hy die wêreldrekord verbeter het, se paadjies vir eers sal skei.

“Ek het my tyd saam met Tannie Ans en haar span ongelooflik baie geniet, maar ek wil probeer om my rekord te verbeter. En om dit te doen, moet ek saam met die beste naellopers ter wêreld hardloop,” het hy destyds gesê.

Van Niekerk sal in die VSA skouers met gerekende naellopers soos Noah Lyles en Shaunae Miller-Uibo skuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.