Wenda wil nog vinniger ná derde plek in Nederland

Wenda Nel seil oor ’n hekkie. Foto: Reg Caldecott.

Suid-Afrika se 400 m-hekkieskampioen, Wenda Nel, het die afgelope naweek haar staal op die internasionale verhoog gewys toe haar tyd van 55,25 sekondes vir haar ’n derde plek in Hengelo besorg het.

Die Nederlandse atleet Femke Bol het die item met haar tyd van 54,33 sekondes gewen.

Dit was Nel se eerste internasionale wedloop sedert 2019 en sy vertel dat die senuwees maar lekker geknaag het.

“Ek het nie eintlik geweet wat om te verwag nie. Dit het soos die begin van ’n nuwe seisoen gevoel; asof dit wat vooraf in Suid-Afrika gebeur het nie eintlik tel nie.”

Die Tukkies-atleet is in die Suid-Afrikaanse Olimpiese span vir die Tokio-skouspel opgeneem nadat sy juis verlede jaar gesê het dat die Spele – op 32-jarige ouderdom – haar hoofdoelwit is.

En sy werk hard om haar droom van “’n amperse perfekte wedloop” te verwesenlik. Haar beste tyd vanjaar is 55,16 sekondes wat sy in Potchefstroom gehardloop het; nou wil sy weer die stophorlosie in minder as 55 sekondes stop.

“Ek is tevrede met my onlangse vertoning en ek het opsetlik meer konserwatief weggespring. My oupa het altyd gesê ’n mens moet genoeg petrol in die tenk vir belangrike oomblikke oorhê. Die laaste 100 m was taai, maar ek het genoeg energie gehad om die wa deur die drif te trek.”

Nel sal weer Donderdag in Italië saam met Akani Simbine by ’n Diamantliga-byeenkoms in aksie wees.

“As alles volgens plan verloop en as ek genoeg energie oorhet om die laaste hekkie met mening aan te val, kan ek dalk vinniger as 55 sekondes hardloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.