Blitsbokke pak Samoa in halfeind

(Foto: Hansie Linde)

Die Blitsbokke het Saterdagaand in die Kaapstad-stadion hul ondersteuners ʼn paar benoude oomblikke besorg voordat hulle Brittanje in die kwarteindronde van Wêreldrugby se sewestoernooi geklop het.

Die Blitsbokke, wat in Dubai in hul eerste groepwedstryd deur Brittanje geklop is, het met 21-14 gewen nadat die rustydtelling met 7-7 gelykop was.

Die Blitsbokke se Ricardo Duarttee, of Tricky Ricky soos hy nou deur die kommentators en sy spanmaats gedoop is, het net ná rustyd die skaal in die Blitsbokke se guns geswaai met ʼn drie, wat hy ook verdoel het.

Die Blitsbokke kom Sondag in die halfeindronde (15:46) teen Samoa te staan, wat Argentinië met 22-10 uitgeskakel het.

In die ander halfeindstryd kom Nieu-Seeland, wat Uruguay met 50-0 oorrompel het, teen Amerika te staan, wat Fidji (die groot teleurstelling van die toernooi) met 17-7 geklop het.

Die Blitsbokke het op pad halfeindronde toe vir Kanada (17-7), Fidji (17-7) en Frankryk (26-7) geklop voordat hulle Brittanje verslaan het.

Hulle het beslis die skietgoed om die kroon tuis te span, veral omdat die tuisskare bankvas agter hulle staan.

Punte: Suid-Afrika 21 (7): Drieë: Ryan Oosthuizen, Ricardo Duarttee, Dalvon Blood. Doelskoppe: Duarttee (3).

Brittanje 14 (7): Drieë: Morgan Williams, Femi Sofolarin. Doelskoppe: Tom Emery (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.