Dollars rol steeds in vir Roger

Roger Federer groet die toeskouers ná hy op Wimbledon uitgeskakel is. (Foto: Glyn Kirk/AFP. )

Roger Federer het in September 2022 sy laaste professionele tenniswedstryd gespeel toe hy saam met Rafael Nadal in ʼn Laverbeker-dubbelspelwedstryd in aksie was.

Maar ondanks ʼn hele paar maande langs die baan, tel hy steeds onder die hoogsbetaalde sportmanne ter wêreld.

Die 41-jarige Switserse tennislegende het danksy borgskappe, sy handelsmerk RF en aandele in die On-skoenvervaardigers steeds $95,1 miljoen in sy sak gesteek.

Federer, wie se ma ʼn Suid-Afrikaner is, is ongetwyfeld ʼn tennislegende.

Hy het in 24 jaar meer as 1 500 wedstryde gespeel, 20 Grand Slam-titels ingeoes en vir 310 weke die septer as die wêreld se voorste speler geswaai.

Tog wou sy lyf net nie meer saamspeel nie en die een knieoperasie na die ander het die uurglas vinniger laat leegloop as wat hy dit wou hê.

Federer en Rafael Nadal. (Foto: Twitter. )

“Hierdie was ʼn moeilike besluit om te neem want ek gaan alles van die ATP-toer mis. Maar terselfdertyd het ek ook soveel dinge om te vier. Ek beskou myself as een van die gelukkigste mense op aarde – ek het ʼn spesiale talent ontvang om tennis te speel en ek kon dit vir baie langer doen as wat ek ooit gedroom het,” het Federer met sy uittrede gesê.

Hoewel hy baie aan sy gesin, borge, span en teenstanders verskuldig is, het hy ʼn spesiale boodskap vir sy ondersteuners gereed gehad.

“Sonder julle sou al die hoogtepunte op die tennisbaan maar ʼn eensame storie gewees het. Danksy jul ondersteuning het ek met krag en selfvertroue gespeel.

“Die laaste 24 jaar se toerwedstryde was ʼn ongelooflike avontuur en soms voel dit of dit eintlik in 24 uur verby my geflits het. Ek het gelag, gehuil, vreugde en hartseer ervaar, maar bowenal het ek voluit geleef. Dankie tennis, ek het jou lief.”

Sokkersterre soos Cristiano Ronaldo en Lionel Messi se name pryk heel bo op die Forbes-lys.

  • Forbes se lys vir hoogsbetaalde sportsterre:
  1. Cristiano Ronaldo (sokker): $136 miljoen
  2. Lionel Messi (sokker): $130 miljoen
  3. Kylian Mbappé (sokker): $120 miljoen
  4. LeBron James (basketbal): $119,5 miljoen
  5. Canelo Alvarez (boks): $110 miljoen
  6. Dustin Johnson (gholf): $107 miljoen
  7. Phil Mickelson (gholf): $106 miljoen
  8. Stephen Curry (basketbal): $100,4 miljoen
  9. Roger Federer (tennis): $95,1 miljoen
  10. Kevin Durant (basketbal): $89,1 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.