DTM-oorwinning eerste vir SA

Deur Rudolph Lake

Sheldon van der Linde en die BMW-span vier hul oorwinning in die DTM-kampioenskap. (Foto: Verskaf deur BMW)

Sheldon van der Linde het die vorige paar nagte erg gesukkel om te slaap, maar toe die Suid-Afrikaner Sondag die slaap uit sy oë vee, was hy die nuwe DTM-kampioen.

Van der Linde het op Hockenheim in Duitsland die aanslag van Mercedes se Lucas Auer en Audi se Rene Rast afgeweer om BMW se eerste bestuurderstitel in die DTM-reeks sedert 2016 in te palm. Hy is ook die eerste Suid-Afrikaner om hierdie titel te wen.

Van der Linde het by Hockenheim opgedaag met ’n stewige voorsprong van 11 punte, maar vooruitsigte van sukses het vinnig gekwyn met die Suid-Afrikaner wat met tien wegspringplekke beboet is weens ’n bande-oortreding.

Hy het gevolglik in die sestiende posisie weggespring, maar ná ’n heldevertoning in ’n wedren gevul met ongelukke, het Van der Linde in die tweede plek klaargemaak.

Auer het egter die eerste wedren gewen en Van der Linde se stewige voorsprong van 11 punte het skielik tot net twee gekrimp.

In die finale titel-beslissende wedren het die 23-jarige Van der Linde koelkop gebly terwyl Auer gesukkel het en uiteindelik derde oor die wenstreep gejaag om die titel te verower.

Sheldon van der Linde is die eerste Suid-Afrikaners wat as DTM-kampioen aangewys is. (Foto: Verskaf deur BMW)

“Ek kon sedert Donderdag byna nie slaap nie, maar nou is al die gewig van my skouers af en is ek oorstelp van vreugde.

“Ek het die hele naweek ongelooflike druk beleef. As die voorloper in die reeks het almal verwag dat ek die kampioenskap moet wen.

“Dit is baie makliker gesê as gedaan en daar is baie bepalende faktore. Ek is bitter bly vir die span en bitter trots dat ek dit kon regkry. Dit was ’n droom van kindsbeen af,” sê hy nou.

Van der Linde sê egter dit is nie maklik om uit Suid-Afrika as ’n motorresieskampioen gekroon te word nie.

“My droom was om aan die DTM-reeks deel te neem. Daarna was dit om die reeks te wen. Ek kan dit nie glo nie, maar nou het ek dit vermag. Dit is absoluut ongelooflik.”

BMW het in ʼn verklaring gesê dit was ʼn fantastiese en emosionele dag vir die hele span en dat almal betrokke hard gewerk het vir hierdie oorwinning.

Bron: Motorsport.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Baie geluk Sheldon.
Maar nou kom my probleem.
Jy staan trots en dra die SA vlag met trots, maar wat het die SA regering vir jou gedoen? My kind is ‘n SA Akrobaat. Sy het gekwalifiseer om SA oorsee te verteenwoordig, maar ek moet die hele episode betaal. Haar dansskool voldoen aan die SA se “rasse kwota” maar geen danser kry 1 sent van die land wat hulle moet verteenwoordig. Omdat hulle sport nie rugby, sokker, krieket of netbal is nie, is borge ook nie bereid om te borg nie, want daar is geen of min vir die borge daarin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.