Gaan doen die Ironman, jou yster!

Driekamp is vinnig besig om een van die gewildste sportsoorte in die land te word. Foto: Facebook.

Desember is normaalweg ’n maand van vakansie, selfopgelegde beperkings van “slegs” drie Magnum-roomysse per dag en ’n gimnasiumkontrak wat iewers vergete in ’n lessenaarlaai lê. Tog is daar diegene wat selfs oor die feestydperk aan’t swem, fietsry en hardloop is.

En hoe dan anders? Want die eerste Ironman-kompetisie van 2019 is reeds in Januarie en jy kan nie bekostig om slap te lê nie.

“’n Ironman is net ánders. Dit is asof jy letterlik die fiksheid tussen die deelnemers kan ruik en almal se bangheid kan aanvoel. Die atmosfeer is elektries; gelaai met die kompeterendheid van 3 000 atlete.”

Só sê Magda Nieuwoudt – hoofghoeroe van Trivium Triathlon en ’n professionele driekampatleet. Sy was al in Afrika, Europa en Asië in aksie en is een van die blinkste jong sterre in die land.

Sofapokkels verkeer gereeld onder die wanindruk dat jy superfiks moet wees vóór jy vir ’n driekamp kan begin sweet. Nieuwoudt slaan egter dié mite die nek in.

“Die mens is gemaak om te oefen. Waar die meeste die fout maak, is om nie by ’n oefengroep aan te sluit nie. Jou gewete dien dan as ’n sterk motivering en aansporing om te kom oefen.”

Suid-Afrika se driekamp-mekkas is in Durban en Oos-Londen geleë, terwyl Port Elizabeth gasheer vir die Afrika-kampioenskap speel. Met ander woorde, as jy van plan is om by een van dié drie venues deel te neem, moet jy bereid wees om in die see te swem.

“Ek dink mense praat hulself onnodig bang. Die soutwater sorg dat jy lekker kan dryf en sodoende vermors jy baie minder energie. Tog maak ’n rowwe see dinge aansienlik moeiliker. Ons moes een keer golwe van vier meter en hoër in Durban trotseer en jy het nie geweet wáár jy is as die branders oor jou breek nie. Die geheim is om dan kalm te bly en nie teen die see te veg nie.”

Sy is opgewonde oor die blootstelling wat driekampkompetisies deesdae in Suid-Afrika kry.

“B-Active Sport verrig wondere met hul Ultra Reeks-kompetisies. Die moeilikste driekamp is juis die Midmar Ultra-driekamp – jy swem in ’n dam wat ongelooflik jobbelrig met tye kan wees, terwyl jy jouself lelik met die fietstrap- en drafgedeeltes kan misgis.”

Magda Nieuwoudt is een van die blinkste driekamp-sterre. Foto: Trivium Triathlon.

’n Professionele Ironman-atleet soos Nieuwoudt oefen letterlik die hele dag: tot sewe ure op ’n slag. Sy maan egter dat ’n voldoende rusperiode net so belangrik as ’n strawwe oefensessie is.

Nieuwoudt was al in aksie in Skotland, Duitsland, Frankryk, Oostenryk en Taiwan. Sy glo egter dat die alleenheid wat ’n oorsese avontuur bied, jou grootste teenstander is en nie die ander deelnemers nie.

“Niemand is daar om jou te ondersteun nie en jy begin oor nietighede bekommer: soos wat gaan jy eet en of jy betyds by die kompetisie gaan opdaag. As die resies eers begin, slaak jy eintlik ’n sug van verligting, want jy weet jy kán dit doen.”

’n Driekamp is eintlik baie soos die lewe – opgee is hoegenaamd nie ’n opsie nie. So indien jy jouself ’n lekker fiksheidsuitdaging vir 2019 wil gee: gaan swem, trap fiets en draf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

Gemaklik met 180km fietsry en 42km hardloop, maar daai swem! ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.