Aanhouer wen vir Frittelli

Na ‘n paar terugslae, is Dylan Frittelli weer behoorlik op koers. (Foto: DP World Tour/X)

Toe die jong Suid-Afrikaanse student Dylan Frittelli in 2012 die wensethou vir die Universiteit van Texas inrol om die Amerikaanse kollege-titel te beklink, is ʼn baie blink toekoms vir hom voorspel.

Frittelli het sonder meer daarop voortgebou en in 2016 die Lyoness-toernooi en die Mauritius-Ope in 2017 gewen. Hy het sy eerste titel in die Amerikaanse PGA-reeks beklink toe hy die John Deere Classic in 2019 gewen het.

Sy loopbaan was op koers en hy was op pad na die kruin van sy loopbaan.

Maar toe volg ʼn paar terugslae, veral in 2023 toe hy sy spelpeil verloor het. Hy het in 23 van die 27 toernooie waarin hy afgeslaan het, nie die afsnypunt gehaal nie, of onttrek.

Hy het teruggesak tot 434ste posisie op die gholfranglys en hy het gewik en weeg of hy nie van die spel moet wegstap nie. Tog het hy vasgebyt en besluit om weer in die Europese reeks te speel – daar waar hy ses jaar gelede diep spore in sy loopbaan begin trap het.

Hy was rooiwarm in die eerste drie rondes van die Bahrein-kampioenskap wat die afgelope naweek beslis is en het Sondagoggend met ʼn voorsprong van twee houe in die laaste ronde afgeslaan.

Hy het sy voorsprong oor die eerste nege putjies ingeboet en toe hy op die 12de putjie twee houe oor baansyfer was, het die donker wolke van onsekerheid weer saamgepak.

Maar hy het kalm gebly en teruggeveg en op die volgende vier putjies drie voëltjies behaal om weer die voorsprong te neem.

Hy het 275 houe (-13) aangeteken om die toernooi met twee houe voor sy landgenoot Zander Lombard en die Sweed Jesper Svensson (277, -11) weg te raap, met nog ʼn Suid-Afrikaner, Ockie Strydom, vierde op 279 (-9).

Frittelli het R7,9 miljoen met sy oorwinning laat inrol en is ook met 500 punte beloon in die Race to Dubai-wedloop.

Lombard het sowat R1 miljoen met sy gesamentlike tweede plek verdien en Strydom se bankbalans het met R535 000 gebult.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Pebble Beach Pro Am wat in Kalifornië beslis word, is die organiseerders genoodsaak om die vierde ronde tot Maandag uit te stel weens sterk wind, reën en om veiligheidsredes.

Die Amerikaner Wyndham Clarke, wat die baanrekord van 60 houe in die derde ronde geëwenaar het, loop met een hou voor Swede se Ludvig Aberg, met Frankryk se Matthieu Pavon ʼn verdere hou terug.

* In die plaaslike Sonskynreeks het die Wallieser Rhys Enoch stof in die oë van die Suid-Afrikaners in die laaste ronde van die SDC-Ope geskop wat by die Zebula-landgoed in Limpopo gespeel is.

Enoch het een hou agter Wilco Nienaber en Louis Albertse in die laaste ronde afgeslaan, maar het met drie agtereenvolgende voëltjies op die eerste drie putjies die voortou geneem.

Hy het 66 houe in die laaste ronde aangeteken en op 264 houe (-24) geëindig.

Dit was ʼn emosionele oorwinning vir Enoch, wat sy oorwinning opgedra het aan een van sy pa se beste vriende wat Vrydag oorlede is.

Ook moes Enoch ʼn hele paar beserings die afgelope twee jaar oorkom; dit het ʼn operasie aan sy linkerskouer ingesluit.

Suid-Afrika se Martin Rohwer en Deon Germishuys was saam tweede op 266 (-22) met Dylan Naidoo vierde op 268.

Nienaber het op 270 houe geëindig en Albertse op 272.

  • Bronne: Sonskynreeks, European Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.