Branden vuurwarm in Arnold Palmer-toernooi

Die Suid-Afrikaner Branden Grace. (Foto Facebook)

Dit is baie jammer dat die Suid-Afrikaner Branden Grace eers in die derde ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingsgholftoernooi op Bay Hill in Orlando, Florida, die spinnerakke afgeskud het.

Grace, wat verlede week die Puerto Rico-ope gewen het nadat hy 66 houe in die laaste ronde aangeteken het, het Donderdag en Vrydag 74 en 71 houe in die eerste twee rondes aangeteken. Hy was heeltemal uit die wedloop, maar Saterdagaand (SA tyd) het hy die stang vasgebyt en ʼn skitterende 67 houe in die derde ronde op sy telkaart ingevul met dreigende onweerswolke wat begin saampak het.

Grace, wat agt voëltjies aangeteken het, het ongelukkig op drie putjies houe aan baansyfer afgestaan.

Hy het soos ʼn sneltrein weggespring en vyf voëltjies oor die eerste nege putjies aangeteken vir ʼn puik 32.

Hy is op 212 houe terug in die wedloop en net sewe houe agter die voorloper, die 47-jarige veteraan-Engelsman Lee Westwood.

Westwood is op 205 houe (11 onder baansyfer).

As hy wen, sal dit sy eerste oorwinning in die PGA-reeks sedert die St. Jude Classic in 2010 wees.

Westwood is een hou voor die Kanadees Corey Conners en Bryson DeChambeau, wat op die vyfde putjie sy bal 350 meter ver geslaan het om ʼn voëltjie aan te teken.

Wat dit interessant maak, is dat DeChambeau kortpad oor die meer gekies het en maar baie benoud was voordat sy bal op gras oorkant die meer beland het.

DeChambeau-hulle word gevolg deur Keegan Bradley en Jordan Spieth, albei op 207 en dan nog ʼn Engelsman, Tommy Fleetwood (208).

Van Spieth gepraat. Hy het op die tweede putjie ʼn volmaakte kolhou aangeteken.

Waar hy vanjaar ná die derde ronde in ʼn paar toernooie voor was, maar nie die pas kon volhou nie, is dit dalk nou sy kans om die juk van oënskynlike middelmatigheid af te skud nadat hy in 2017 laas ʼn toernooi (Britse Ope) kon wen.

Van die ander Suid-Afrikaners het Christiaan Bezuidenhout ʼn derde agtereenvolgende 70 houe op sy telkaart ingevul en is hy op 210 11de.

Erik van Rooyen (218) het 72 houe in die derde ronde aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.