Burmester nou een van SA se blinkste diamante

“Ek speel dalk die beste nog in my loopbaan. Die aantal oorwinnings, die toptien-plekke, die topvyf-plekke, dit is werklik iets spesiaals,” het Dean Burmester ná sy oorwinning gesê. (Foto: Megan Briggs/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Dean Burmester het Sondagaand op Trump National Doral in Florida in die VSA seker gemaak dat sy naam ook saam met die grotes van Suid-Afrikaanse gholf genoem word wanneer daar om die braaivleisvuur gekuier word toe hy sy eerste oorwinning in die LIV-reeks behaal het.

Die 34-jarige Burmester, wat in Mutare in Zimbabwe gebore is, was aan Grey Kollege in Bloemfontein op skool. Sy pa, Mark, het vir Zimbabwe krieket gespeel en sy ma, Michelle, hou steeds die baanrekord by die Royal Harare-gholfklub.

Burmester, wat vanuit die Bloemfontein-klub speel, het die Spanjaard Sergio Garcia op die tweede uitspeelputjie geklop en seker gemaak dat die eerste prysgeld van $4 miljoen (sowat R74,8 miljoen) in sy bankrekening gestort word.

Albei spelers het op -11 geëindig.

Die Amerikaner Matthew Wolff was derde (-10), gevolg deur Tyrrell Hatton van Engeland, Marc Leishman van Australië en Jon Rahm van Spanje, wat al drie op -8 klaargemaak het.

Burmester het die derde en laaste ronde in 68 houe voltooi en saam met Garcia op 205 houe (-11) geëindig.

Burmester het die voortou op die 16de putjie van die derde ronde geneem, maar op die 17de ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Hy en Garcia het albei drie keer op die 18de geset om saam eerste te eindig.

Garcia, wat nog nooit in die LIV-reeks kon wen nie, het op die tweede uitspeelputjie verbrou toe hy sy bal in die water geslaan het wat aan Burmester sy oorwinning besorg het.

“Ek speel dalk die beste nog in my loopbaan. Die aantal oorwinnings, die toptien-plekke, die topvyf-plekke, dit is werklik iets spesiaals,” het Burmester ná sy oorwinning gesê.

Burmester het aan die einde van verlede jaar ook die Suid-Afrikaanse Ope en die Tshwane-Ope gewen en het nou straks die mantel by Louis Oosthuizen as Suid-Afrika se beste speler oorgeneem.

Van Oosthuizen gepraat, hy het die derde ronde in 71 houe voltooi en was saam sewende op 209.

Branden Grace (218, +2) en Charl Schwartzel (220, +4) was verder terug.

Op die koop toe was die Suid-Afrikaanse Stinger-span derde in die spanafdeling (-15) ná Legion XIII (-22) en die RangeGoats (-21).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Texas-Ope wat op TPC San Antonio beslis is, het Akshai Bhatia ook sy eerste oorwinning in die reeks behaal toe hy sy Amerikaanse landgenoot Denny McCarthy in ʼn uitspeelstryd geklop het nadat albei saam voor op 268 houe (-20) klaargemaak het.

Die Noord-Ier Rory McIlroy was derde op 277 (-11) nadat hy die vierde en laaste ronde in 66 houe voltooi het, met die Amerikaner Russell Henley vierde (278, -10), gevolg deur sy landgenote Adam Schenk en Brendon Todd op 279 (-9).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het op 284 houe (-64) geëindig en Garrick Higgo op 285 (-3).

Die rietskraal Bhatia het byna nie in die uitspeelstryd gespeel nie nadat hy sy skouer beseer het toe hy sy vuis gepomp het op die 18de putjie. Maar sy geluk het gehou toe hy op die eerste uitspeelputjie ʼn voëltjie aangeteken het.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Limpopo-kampioenskap wat by die Euphoria-landgoed in Mookgophong beslis is, het Deon Germishuys sy tweede titel in die reeks gewen toe hy 65 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Germishuys het op 266 houe (-22) klaargemaak en Jacques Blaauw met twee houe (268, -20) getroef.

Jacques Kruyswijk (66) en Dylan Mostert (66) was saam derde op 271 (-17), gevolg deur Keenan Davidse vyfde op 272 (-16) en Jean Hugo en Louis Albertse saam sesde op 274 (-14).

Wilco Nienaber, wat ná die eerste ronde voor was, was saam met Zander Lombard, wat ná die tweede ronde voor was, 13de op 277 houe.

  • Bronne: LIV-gholf, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.