Gholf: Nienaber kan steeds wen

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Al het Wilco Nienaber (-6) die derde ronde van die Katar Meesters in twee houe oor baansyfer 74 voltooi, is hy steeds net twee houe agter die voorlopers, Matthew Jordan en Adrian Meronk.

Nienaber se dag het ramspoedig begin met ʼn 6 op die syfer-5 eerste putjie. Daarna het hy ook ʼn liederlike 6 op die syfer-4 vierde putjie aangeteken. Nog ʼn brouhou op die sesde putjie het beteken hy het die eerste nege putjies in 39 houe voltooi, vier houe swakker as baansyfer. Oor die tweede nege putjies kon hy darem twee voëltjies aanteken, maar dit is ontsier deur ʼn brouhou op die syfer-3 17de putjie.

Die Suid-Afrikaner Zander Lombard (-4) staan ook nog ʼn kans. Hy is net vier houe agter die voorlopers. Brandon Stone en Justin Walters is in die gesamentlike 19de plek, vyf houe agter Jordan en Meronk.

Op die Sonskyn-toer was Deon Germishuys se setstok gister vuurwarm in die SDC Ope by die Zebula-gholflandgoed. Hy het sy ronde in 63 houe voltooi en slaan vandag se laaste ronde af met ʼn voorsprong van twee houe. Hy staan nou die kans om sy eerste beroepstitel te wen.

By die Dell-putjiespeltoernooi in Texas oorheers Amerikaners die halfeindronde. Dustin Johnson kom te staan teen Scottie Scheffler en Kevin Kisner pak die Kanadees Corey Conners.

Scheffler het in die kwarteindronde met die Ier Seamus Power afgereken. Johnson het vir Brooks Koepka geklop. Kisner het maklik van Will Zalatoris ontslae geraak en Conners het vir Abraham Ancer uitgeknikker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.