Gholf: SA’ners wys hul staal by SA Ope

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook)

Saterdagmiddag was daar ná 16 putjies ʼn ster uit die verlede, wat skielik ná drie voëltjies in ʼn ry, die tweede plek op die voorlopersbord ingeneem het. Ernie Els (wat 152 toernooie laas kon wen) het ongelukkig op die 17de- en 18de putjies houe aan syfer afgestaan wat sy aanslag ongedaan gemaak het. Els het uiteindelik 15de op -8 geëindig.

Die 108ste SA Ope-toernooi by die Randparkklub in Randburg is deur Suid-Afrika se voorste speler op die wêreldranglys, Louis Oosthuizen, gewen. Oosthuizen het rondes van 62, 70, 67 en 67 aangeteken vir ʼn ses houe oorwinning op -18.

Oosthuizen het die laaste dag met ʼn voorsprong van drie houe begin na ʼn derde ronde van 67 en ʼn toernooitelling van -14. Charl Schwartzel (wat die voorloper na die tweede ronde was) het ʼn 1 oor 72 gespeel in die derde ronde gespeel en was saam met Madalitso Muthiya en Matt Wallace op -11.

Die laaste twee rondes is op die Firethorn-baan gespeel en het beide dae vroeër begin as gevolg van dreigende swaar reën. Oosthuizen se konstante spel het verseker dat hy die kroon dra. Sy laaste ronde het bestaan uit ʼn arend, vyf voëltjies en drie brouhoue (67).

Louis Oosthuizen het reeds die oudste Ope in gholf, naamlik die Britse Ope, gewen. Nou spog hy ook met die tweede oudste Ope agter sy naam.

Op die voorlopersbord was daar nege Suid-Afrikaners onder die top veertien spelers.
1 Louis Oosthuizen -18
2 Romain Langasque -12
3 Charl Schwartzel -10
Thomas Aiken -10
Oliver Wilson -10
Bryce Easton -10
7 Brandon Stone -9
Anthony Michael -9
Jbe’ Kruger -9
Branden Grace -9
Madalitso Muthiya -9
Haydn Porteous -9
Jeff Winther -9
Yikeun Chang -9

Daar was 240 spelers wat meegeding het om te kwalifiseer vir die laaste twee rondes. Net die voorste 70 spelers was Saterdag en Sondag in aksie. Die afsnypunt was -2. Van die bekendes wat nie die kwalifisering van -2 vir die laaste twee rondes kon haal nie, is Trevor Immelman, George Coetzee en Justin Harding (die voorloper op die meriete-ordelys).

Charl Schwartzel het ook sy kaartjie na die Britse Ope bespeek met sy gesamentlike derde plek.

Onder die amateurs het Jovan Rebula (-6) die Freddie Tait troefee ingepalm.

Die prysgeld vir die toernooi het R17.5 miljoen beloop.

Meer inligting is hier beskikbaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.