Koepka se visier duidelik op Meesters-titel

Die VSA se Brooks Koepka by die Meesterstoernooi op Augusta. (Foto: Andrew Reddington/Getty Images/AFP)

Die LIV-speler Brooks Koepka se visier is duidelik op die Amerikaanse Meesters-titel gerig nadat hy Donderdag op Augusta die voortou geneem het ná die eerste ronde van die jaar se eerste Major-gholftoernooi.

Die 32-jarige Koepka wat verlede naweek in Orlando in Florida sy tweede LIV-titel verower het, het sy goeie spelpeil in Georgia voortgesit deur die magiese Augusta-baan op sy knieë te dwing met ʼn puik telling van 65 houe – sewe houe minder as die baansyfer.

“Ek’s terug,” het Koepka triomfantelik aangekondig nadat hy die eerste dag van die stryd om die 87ste Meesters-toernooi saam boaan die voorlopersbord afgesluit het.

Viktor Hovland van Noorweë en die gewilde Spanjaard Jon Rahm is saam met Koepka in die voortou, gevolg deur die Yank Cameron Young en Jason Day van Australië op 67 in die gesamentlike vierde posisie.

ʼn Groot groep van sewe spelers, onder wie die wêreld se no. 1-speler, Scottie Scheffler, deel op 68 houe die sesde plek.

Koepka is ʼn viermalige Major-kampioen. Hy het in 2017 die Amerikaanse Ope gewen, waarna hy in 2018 weer die Amerikaanse Ope sowel as die Amerikaanse PGA gewen het. In 2019 het hy sy PGA-titel suksesvol verdedig en die gholfwêreld oorheers.

Beserings het hom daarna vir ʼn lang tyd gekortwiek en in Junie verlede jaar het hy hom by die nuwe LIV-reeks aangesluit ná maande op die kantlyn.

Koepka het Donderdag vinnig weggespring en vier voëltjies oor die eerste nege aangeteken op ʼn dag wat die moeilike Augusta-baan weerloos was in perfekte weersomstandighede.

Oor die tweede nege het hy nog vier voëltjies aangeteken, maar ook ʼn brouhou by die verlengde 13de putjie wat die spelers op die eerste dag getoets het.

“Ek is reg vir wat voorlê,” het Koepka ná sy vertoning gesê.

Hy het vroeg vandeesweek die hoop uitgespreek dat al die LIV-spelers rondom die 18de setperk bymekaar sal kom indien een van hulle in die wedloop om die titel is.

John Rahm en Justin Thomas tydens die eerste ronde. Rahm is saam met Koepka in die voortou. (Foto: Patrick Smith/Getty Images/AFP)

Rahm, die wêreld se no. 3 wat hierdie seisoen al drie oorwinnings op die Amerikaanse PGA-reeks behaal het, se dag het op ʼn nagmerrie-noot begin toe hy by die eerste putjie vier sethoue nodig gehad het om die balletjie in die blikkie te kry.

Dié dubbele brouhou het Rahm egter aangevuur en die Spanjaard het daarna sewe voëltjies en ʼn arend oor die oorblywende 17 putjies op sy telkaart ingevul.

“Verlig en baie tevrede. Afgesien van my probleme op die eerste setperk het ek so goed gespeel soos nog nooit vantevore nie. Ek is optimisties oor my wenkanse,” het Rahm agterna gesê.

Hovland, no. 9 op die wêreldranglys, se rondte was foutloos en hy het vyf voëltjies en ʼn arend op sy telkaart ingevul.

“Ek het goed gespeel en my kanse gebruik,” het hy gesê.

Twee van gholf se groot kanonne was nie op hul beste op die eerste dag nie.

Rory McIlroy het gelyk aan syfer 72 gespeel, terwyl Tiger Woods met ʼn telling van 74 tevrede moes wees.

“Ek is nie uit die wedloop nie, maar die pad vorentoe is nou steil,” het McIlroy agterna sy lot bekla.

Woods het gesê sy been was baie seer en het hom deurentyd gehinder, maar hy was meer ongelukkig dat hy ʼn paar slegte bofhoue geslaan het en nie die ideale weersomstandighede benut het nie.

“Dit was Augusta op sy maklikste, geen wind nie en sagte setperke. Ek het my kanse verspeel,” het die vyfmalige Meesters-kampioen gesê.

Die heersende Meesters-kampioen, Scottie Scheffler, is op ʼn telling van 68 houe stewig geplaas en het sy tevredenheid te kenne gegee.

“Dit was ʼn goeie dag en ek het nie ekstra druk gevoel nie. Ek kan nie kla oor my vertoning nie en sien uit na die res van die week.”

Suid-Afrika se drietal deelnemers het egter nie goed gevaar nie.

Charl Schwartzel (74), Louis Oosthuizen (76) en die amateur Aldrick Potgieter (77) sal moet uithaal om onder die top-50 te wees om die valbyl ná twee rondtes vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.