LIV-gholf bly kopseer

(Foto: livgolf.com)

Die omstrede LIV-reeks bly ʼn kopseer vir Amerikaanse en Europese mans‑ en vroue-gholf.

Met die samewerkingsonderhandelinge tussen LIV en die Amerikaanse PGA- en DP World-reekse wat steeds voortduur en nog geen aanvaarbare oplossing opgelewer het nie, gaan die Saoedi-Arabies-gefinansierde reeks op eie houtjie voort.

In die proses vuur die LIV-reeks die een kartets ná die volgende terwyl hy topspelers wegrokkel van die mans se PGA- en Europese reeks.

Die LIV-grootbaas Yasir Al-Rumayyan het tussendeur egter ook ʼn stokkie voor die moontlike samesmelting van die Amerikaanse LPGA- en Europese vroue-reeks gesteek.

Wat die omstrede LIV-reeks betref, het dié organisasie verlede jaar sy grootste bom nóg gelos met sy suksesvolle afrokkeling van die Spanjaard Jon Rahm.

Dit het LIV miljarde gekos, maar geen prys was skynbaar te hoog vir die dienste van die Amerikaanse Meesterskampioen en Europese Ryderbekerster nie.

Dinsdag het LIV die Europese reeks nog ʼn pynlike opstopper gegee met die aankondiging dat Rahm se Ryderbeker-speelmaat Tyrrell Hatton hom by die Spanjaard se Legion XIII-span aangesluit het.

Dit het LIV glo meer as $60 miljoen (sowat R1,2 miljard) uit die sak gejaag om die dienste van knorpot Hatton te verseker.

Die emosionele en ongeduldige Engelsman beklee tans die sestiende plek op die wêreldranglys en spog met tien beroepsoorwinnings in sy loopbaan.

Een van die tien toernooie waarin Hatton geseëvier het, was die gesogte Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi.

Die Engelse gholfster was in 2020 op die Bay Hill-baan in Florida baas vir sy eerste en enigste titel in die Amerikaanse PGA-reeks.

Die 32-jarige Hatton se ses Europese titels sluit twee oorwinnings op St. Andrews in die Alfred Dunhill Links-toernooi in, asook vier Rolex-titels, waarvan die grootste die HSBC-kampioenskap in 2021 in Abu Dhabi.

Hatton mag dalk ʼn vurige humeur aan hom hê en ʼn knorrige beeld na buite uitstraal, maar dat hy kan gholf speel, is nie altemit nie.

(Foto: livgolf.com)

Die slegte nuus vir die Europese reeks is nie verby nie.

Die oorlopery van die Pool Adrian Meronk sal na verwagting Woensdagaand Suid-Afrikaanse tyd aangekondig word.

Die LIV-reeks se seisoen begin Vrydag in Mayakoba in Meksiko en Meronk sal na alle aanduidings vanjaar deel daarvan wees.

Die 30-jarige Meronk is ʼn vyfmalige wenner op die Europese reeks en is as een van Europa se toekomstige sterre beskou.

Hy is verlede jaar op omstrede wyse oor die hoof gesien vir die Europese Ryderbekerspan. Dit was glo hierdie besluit wat hom sy rug op die DP World-reeks laat keer het.

Rahm, Hatton en Meronk sou waarskynlik almal aanstaande jaar besliste keuses vir Europa se tweejaarlikse Ryderbekerveldtog in Amerika gewees het.

Sanksies staar egter dié drie spelers in die gesig vir hul deelname aan LIV.

Die sanksies sal waarskynlik boetes van miljoene rand beloop en soos regulasies tans bepaal, sal hulle nie in die Ryderbeker kan speel alvorens hulle die boetes betaal wat hulle waarskynlik opgelê gaan word nie.

ʼn Speler soos Sergio Garcia was nie vanjaar bereid om dit te doen nie en het sy lidmaatskap van die Europese reeks opgegee om enige betaling te vermy.

Rahm, Hatton en Meronk is tans steeds lede van die DP World‑reeks, wat meebring dat hulle in die Ryderbekertoernooi kan speel mits daar nie enige uitstaande sanksies teen hulle is nie.

Wat verdere LIV-aanwinste betref, het die reeks Dinsdag ook gespog met die amateur Caleb Surratt as nog ʼn nuweling in sy geledere.

Die 20-jarige Surratt was verlede jaar deel van die Amerikaanse Walkerbekerspan en tel onder die toptien op die amateurs se wêreldranglys.

Net tyd sal egter leer of Surratt op die beroepsverhoog kan presteer. Sy algehele amateurrekord boesem nie juis veel vertroue in nie; hy sal dus sy spelpeil heelwat moet lig in die groter geselskap waarin hy hom nou bevind.

*Vroue-gholf word wêreldwyd al hoe gewilder en die Amerikaanse LPGA-reeks en Europese vroue-reeks (LET) het verlede jaar vir maande agter die skerms onderhandel om saam te smelt.

Dit het pas aan die lig gekom dat Al-Rumayyan beswaar aangeteken het teen die moontlike samesmelting van die twee reekse en dat samewerkingsgesprekke tussen die twee partye in Desember onbepaald uitgestel is.

Golf Saudi, wat onder Al-Rumayyan se beheer val, is die LET se grootste borg en sy Aramco-reeks van sewe toernooie bring die LET meer as R100 miljoen in die sak.

Die twee vroue-reekse het einde verlede jaar ná Al-Rumayyan se besware besluit om na die tekenbord terug te keer en onderhandelinge te hervat wanneer daar meer duidelikheid is oor Golf Saudi se toekomstige betrokkenheid by die spel.

Die twee reekse is reeds op ʼn klein skaal vennote en bied twee toernooie op Europese bodem gesamentlik aan.

Waar die LPGA-reeks jaarliks groter en sterker word, boer die LET egter agteruit en Golf Saudi is tans die lewensaar wat die reeks van ondergang red. Al-Rumayyan, Golf Saudi, Aramco en Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds (PIF) se ware planne met gholf is egter duister.

Miljarde rand word tans eenvoudig rondgegooi sonder enige en duidelik sigbare planne vir die ontwikkeling en groei van die spel wêreldwyd – wat glo Al-Rumayyan se uiteindelike doelwit is.

Miskien word alles duideliker wanneer die PGA-reeks en sy vennote aanstaande maand weer met Al-Rumayyan en sy handlangers vergader om vrede te bewerkstellig en die toekoms van die spel te verseker.

  • Bykomende inligting: Golfweek, Sky Sports, LIV Golf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Fantastiese reeks. PGA moet nou aanvaar dat hulle hier is om te bly. Rugby het 7s, krieket het t20, golf het LIV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.