Louis koning van Leopard Creek

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het koning gekraai by die Alfred Dunhill-kampioenskap. (Foto: Alfred Dunhill Championship/X)

Louis Oosthuizen swaai die septer in die Alfred Dunhill-kampioenskap.

Die Suid-Afrikaner het Charl Schwartzel, sy LIV-spanmaat, Maandag – nadat reën spel die vorige middag vroeg tot ʼn einde gebring het – in ʼn droom-tweestryd met twee houe op die eksklusiewe Leopard Creek-gholflandgoed uitgestof.

Die gholfbaan grens aan die Krugerwildtuin.

Dit is Oosthuizen se eerste Europese titel die afgelope vyf jaar.

Oosthuizen het klaargemaak met ʼn toernooi-totaal van 270 (-18), drie onder baansyfer. Die laaste ronde moes Maandag eers beslis word nadat swaar reën en donderstorms spel die naweek kortgeknip het.

“Ek wou regtig, regtig graag hierdie een op ʼn ongelooflike baan wen,” het Oosthuizen ná die oorwinning gesê.

“ʼn Slegte hou het my op die 18de in die moeilikheid gehad, maar ek het herstel en kalm geword. Die stryd om die eerste plek teen Charl was ʼn wonderlike ondervinding.”

Schwartzel, ʼn Leopard Creek-veteraan wat die trofee hier al vier keer tevore omhoog gehou het, het geëindig met ʼn telling van 272 (71 in die laaste ronde), terwyl nog ʼn Suid-Afrikaner, Christiaan Bezuidenhout (68), twee houe ná Schwartzel op 274 geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.