Louis kruip nader, maar voorgeestelsel rem hom

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is binne trefafstand van die voorlopers ná die tweede ronde van die Toerkampioenskap. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is binne trefafstand van die voorlopers ná die tweede ronde van die Toerkampioenskap wat by die East Lake-buiteklub in Atlanta gespeel word.

Met die omstrede voorgeestelsel wat in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks gebruik word, gaan dit egter uiters moeilik wees om Patrick Cantlay (Amerika) in te haal.

Slegs 30 spelers ding mee in die Toerkampioenskap – waar groot geld op die spel is – en volgens ʼn voorgeestelsel beslis word nadat verlede week se BMW-toernooi bepaal is.

Hoe beter jy in die FedEx-bekerreeks gevaar het, des te beter is jou voorgee.

Cantlay, wat die BMW-toernooi gewen het en op 10 houe onder baansyfer in die Toerkampioenskap afgeslaan het, is op 133 houe die voorloper (-17 volgens voorgee) ná tellings van 67 en 66. Hy is een hou voor die Spanjaard Jon Rahm (-16) wat die eerste twee rondes in 65 en 65 houe voltooi het. Rahm het drie houe beter as Cantlay gespeel, maar die Amerikaner is volgens sy voorgee steeds met een hou voor.

Bryson de Chambeau (136, -11) is derde, gevolg deur Justin Thomas (-10, 134).

Oosthuizen is agtste (-8, 135) met Erik van Rooyen 29ste (+2, 142).

* By die Marco Simone-buiteklub in Rome is Min-Woo Lee van Australië die voorloper in die Italiaanse Ope wat in Rome beslis word.

Lee is ná rondes van 64 en 68 op 132, tien houe onder die baansyfer.

Mikko Korhonen (Finland), Adria Arnhaus (Spanje), Tommy Fleetwood (Engeland) en die Amerikaner Johannes Veerman is saam tweede op 134 houe.

Suid-Afrika se Daniel van Tonder is saam sesde op 135, sewe houe onder die baansyfer, met Darren Fichardt en Dean Burmester saam in die 46ste posisie.

* In die Europese vrouetoernooi wat by die Kristanstads-buiteklub in Swede beslis word, is Suid-Afrika se Casandra Hall 21ste (+2).

Die Sweed Maja Stark (137) is een hou voor Alana Uriell van Amerika en Linn Grant, ook van Swede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.