‘Nee’ vir ranglyspunte in LIV-reeks

Deur Rudolph Lake

Greg Norman (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Die LIV-gholfreeks bevind hul steeds in die koue wat betref hul pogings om vir wêreldranglyspunte te kwalifiseer.

Die OWGR, die private maatskappy wat die wêreldranglys saamstel, het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle het nie genoeg tyd gehad om ’n aansoek vir ranglyspunte deur die Meta-reeks te oorweeg nie.

Meta het Woensdag dié aansoek aan die OWGR gestuur en gevra dat dit spoedig oorweeg en ’n besluit voor Vrydag geneem word.

Meta en Greg Norman se omstrede LIV-reeks het vroeër vandeesweek ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens die LIV-toernooie in Bangkok en Jeddah onder die vaandel van Meta aangebied word.

Die Bangkok-toernooi het Vrydag begin en die een in Jeddah word aanstaande week beslis.

Norman het dus gehoop die LIV-spelers wat vandeesweek in Thailand meeding, kan reeds op ranglyspunte aanspraak maak.

Die Meta-reeks word sedert 2016 deur die OWGR erken as ’n amptelike ontwikkelingsreeks in die Midde‑Ooste en Noord-Afrika. Gevolglik kan spelers wêreldranglyspunte in Meta-toernooie verdien.

Luidens ’n verklaring deur die OWGR het Meta se aansoek om wêreldranglyspunte egter ingrypende veranderinge aan sy lidmaatskap- en toernooi-struktuur ingesluit.

Die OWGR wil nou eers hierdie veranderinge ondersoek alvorens ’n besluit oor die toekenning van enige wêreldranglyspunte geneem sal word.

Alle LIV-toernooie het beperkte velde van slegs 48 spelers. Die OWGR wil glo ook hierdie aspek van nader bekyk aangesien hul vereistes velde van minstens 75 spelers, asook ’n afsnymerk ná 36 putjies voorskryf.

Norman het ook in Julie vanjaar namens die LIV-reeks by die OWGR aansoek gedoen om erkenning as ’n amptelike reeks.

Dié aansoek word nog deur die OWGR bestudeer.

’n Omgekrapte Norman en vyftig LIV-spelers het ’n paar weke gelede in ’n brief aan die OWGR hul ongelukkigheid uitgespreek omdat daar nog nie uitsluitsel oor hul aansoek is nie en gevra dat dit dringend afgehandel word.

Norman is onder groot druk om wêreldranglyspunte vir die LIV-reeks te bekom omdat spelers wat onder die top-50 op die ranglys tel, regstreeks vir die vier Major-toernooie kwalifiseer.

Al die spelers wat hulle by die LIV-reeks aangesluit het, het die hoop uitgespreek dat hulle in die toekoms nog in die Major-toernooie sal kan speel, maar soos hulle tans op die wêreldranglys terugsak, sal die vier grotes net vir enkeles beskore wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Kan dit die ysterhand van die ‘globale elite’ genoem word?
Ons was eerste en ons is baas.
G’n wonder die ‘derde wêreld’ begin hul vererg op alle gebiede nie.

Manie ·

O ja, kyk maar net wie is en beheer die PGA reeks en dis ooglopend om te sien dat die klomp arrogante Yanks dink hulle is die alfa en omega van die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.