Video: Skare by Meesters skarrel toe reusebome tuimel

Die voorval het ‘n beroering veroorsaak, maar geen beserings is aangemeld nie. (Foto: Fore Play/Twitter)

Vreesbevange toeskouers by die Meesterstoernooi op Augusta in die VSA het in alle rigtings laat spat nadat drie reusedennebome Vrydag naby hulle op die wêreldbekende baan in stormweer ontwortel is.

Die voorval het naby die 17de putjie plaasgevind kort voordat die tweede ronde weens stormweer opgeskort is.

Die bome het naby ʼn groep toeskouers geval, maar volgens die organiseerders is niemand beseer nie.

“Die veiligheid en welstand van almal by die Meesterstoernooi sal altyd die klub se grootste prioriteit wees. Ons sal die weer vandag en regdeur die toernooi fyn dophou,” het die klub in ʼn verklaring gesê.

Kort nadat die bome omgeslaan het, het die organiseerders aangekondig dat spel opgeskort word en toeskouers moes die baan verlaat wat deur stormwind getref is. ʼn Aankondiging het in daardie stadium gelui dat donderstorms, gepaardgaande met sterk wind en weerlig, onderweg is na die gebied.

Die toringhoë dennebome is ʼn kenmerk van die welbekende en prentjiemooi baan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.