Gibson soek ’n beter kolfvertoning

Gaan Wiaan Mulder uiteindelik sy toetsdebuut in Port Elizabeth maak? Foto: Cricinfo.

Drie paaltjies plat met skaars 20 lopies op die telbord. Dít was die droewige storie van die Proteas se eerste kolfbeurt op Kingsmead in die openingstoets teen Sri Lanka.

Ofskoon Kusal Perera se warrelwindbeurt van 153 die wind finaal uit die Proteas se seile gemoker het om toe te sien dat die besoekers ’n merkwaardige oorwinning in Durban behaal het, glo die Protea-ringkoppe dat ’n beter vertoning met die wilgerlat die sleutel tot sukses in die tweede toets is.

“Ja, ons kolfwerk móét net eenvoudig in die eerste beurt verbeter,” het die Proteabreier, Ottis Gibson, by n perskonferensie gesê.

Die Proteas is vir 235 in hul eerste beurt uitgeknikker, met net Quinton de Kock (80 van 94 aflewerings) en Temba Bavuma (47) wat hul man kon staan. Keshav Maharaj het met sy 29 meer lopies as Aiden Markram, Dean Elgar én Hashim Amla aangeteken.

Gibson het Perera vir sy pragbeurt geloof en gesê hoewel die paaltjiewagter/kolwer ’n paar keer vroeg in sy beurt gelukkig was, het hy uitstekend gespeel.

“Toe ek die vorige aand huiswaarts gekeer het, het ek wragtie nie gedink dat dít die uitslag sou wees nie, maar Sri Lanka verdien alle lof vir die wyse waarop hulle gespeel het.”

Vernon Philander het net ’n paar boulbeurte in Sri Lanka se tweede beurt afgestuur, vóór hy die veld met ’n dyspierbesering moes verlaat het. Hy is nie beskikbaar vir die Port Elizabeth-toets nie.

Met Gibson se pleidooi vir beter kolfwerk, kan die veteraanbouler se plek deur Theunis de Bruyn gevul word, maar dan is die boularsenaal aan die leë kant.

’n Ander opsie is die jong Wiaan Mulder wat al vir ’n geruime tyd deel van die Protea-opset is, maar bitter min speelkans kry.

Sy boulwerk sal beteken dat Faf du Plessis op vyf boulers in Steyn, Rabada, Olivier, Maharaj en dan ook Mulder, kan staat maak om die besoekers die nekslag toe te dien.

Hy is egter ook ’n goeie kolwer en handhaaf ’n gemiddeld van 43 ná 31 beurte in eersterangse krieket, met ’n hoogste telling van 146.

Die eerste aflewering word môre om 10:00 op Port Elizabeth se St. George’s Park afgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fonnie ·

Die Proteas moet onthou dat daar vyf dae is waarin die stryd woed. Hulle moet hulle tyd gebruik en voortdurend ‘n waardering van die spel maak. Hulle wil lyk vir my elke wedstryd binne twee of drie dae afhandel. Dit werk nie so nie.

KJ ·

Die wereld se “top” bowler kan nie tailender wickets vat nie LOL. Ek sou se die kolfwerk was pateties, maar die bowling ou-wha-wha

koos1 ·

Ou Gibson. Jy moet boulers kry wat kan paaltjies vat aan die einde. Jou kolwers het deurgans meer lopies as hulle teenstaanders gekry , maar jou boulers het nog met al die toetse aan die einde van die beurte swaar gekry. Ek is oortuig daarvan dat jy met jou opmerkings net die SA pos gevat het totdat iets beter opduik, amper soos Mitchell was by die Bulle.

Anoniem ·

Hoekom speel hulle dan nie vir Imran Tahir in die toetse nie, hy is baie beter as Maharaj en enige ander draaier in die land. Die man neem paaltjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.