6/20: Roelof laat Giants struikel

Roelof van der Merwe vier een van sy paaltjies. Foto: Twitter via Sunrisers Eastern Cape.

Die Sunrisers Eastern Cape het die Durban Super Giants met ʼn allemintige 124 lopies oorrompel in hul SA20-wedstryd op St George’s Park.

Die flitsende kolwe van Adam Rossington (72 lopies vanaf 30 balle), Jordan Hermann (59 lopies vanaf 44 balle), Aiden Markram (44 lopies vanaf 34 balle) en Tristan Stubbs (27 lopies vanaf 13 balle) het weliswaar die Durbaniete onder kwaai druk geplaas, maar dit was Roelof van der Merwe se boulwerk wat die finale nekslag toegedien het.

Die 38-jarige draaier spog met ʼn boulontleding van 6/20 en hy het onder meer vir Heinrich Klaasen en Quinton de Kock vanaf agtereenvolgende aflewerings ontslae geraak.

Dan het hy ʼn uitstekende vangskoot vanaf sy eie boulwerk benut om die gevaarlike Jason Holder terug na die kleedkamer te stuur.

Die oudleerling van Hoërskool Waterkloof speel sedert 2015 sy internasionale krieket vir Nederland en hy was ʼn lid van die seëvierende span wat die Proteas se doppie by die afgelope T20-Wêreldbekertoernooi in Australië geklink het.

Van der Merwe het egter sy internasionale buiging vir Suid-Afrika teen Australië in ʼn T20-wedstryd gemaak en hy is terstond as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy met kolf en bal uitgeblink het.

Die linkshandige draaier het toe 1/30 met die bal geneem en 48 vinnige lopies geslaan.

En as ʼn mens kyk hoe hy gisteraand elkeen van sy paaltjies gevier het, is dit duidelik dat die krieketpassievlam nog helder in hom brand.

  • Opsomming van telkaart:

Sunrisers Eastern Cape 210/2 in 20 boulbeurte: Adam Rossington 72, Jordan Hermann 59 en Dwaine Pretorius 1/36.

Durban Super Giants 86/10 in 14,4 boulbeurte: Wiaan Mulder 29, Roelof van der Merwe 6/20 en Marco Jansen 1/5.

  • SA20-punteleer:
  1. Pretoria Capitals: 18 punte ná ses wedstryde
  2. Sunrisers Eastern Cape: 17 punte ná sewe wedstryde
  3. MI Cape Town: 13 punte ná ses wedstryde
  4. Paarl Royals: 13 punte ná sewe wedstryde
  5. Joburg Super Kings: 12 punte ná ses wedstryde
  6. Durban Super Giants: 8 punte ná ses wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kragaap ·

Sal ook eerder vir ‘n ander land speel as vir die choker brigade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.