AB saai weer eens verwoesting in IPL

AB de Villiers. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

Australië se Glenn Maxwell het vroeër vanjaar gesê dat hy nie kan wag om saam met AB de Villiers vir die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga te kolf nie.

“AB is een van my helde en dit sal wonderlik wees om saam met hom te werk. Hy was nog altyd baie hulpvaardig en dit is baie lekker om in dieselfde span as hy te wees,” het Maxwell destyds gesê.

Nou ja, vandag het die 32-jarige Aussie gedurende hul vennootskap van 53 lopies presies gesien hoeveel verwoesting De Villiers in ’n T20-wedstryd kan saai.

Die 37-jarige voormalige Protea-kaptein het 76 lopies van slegs 34 aflewerings vir RCB teen die Kolkata Knight Riders geslaan.

Hy het drie sesse en nege viere in sy beurt geslaan en het oudergewoonte met ’n paar verstommende houe vorendag gekom.

Die Knight Riders se André Russel is een van die wêreld se gevaarlikste witbalkrieketboulers, maar De Villiers het die een grenshou na die ander van sy boulwerk geslaan.

Russell het van om die paaltjies ’n vol bal buite die Suid-Afrikaner se wegpen afgestuur. Waar ander kolwers dalk sou gesukkel het, het De Villiers met die grootste gemak die bal tussen die paaltjiewagter en die veldwerker deur na die grens gejaag.

RCB het die kragmeting uiteindelik met 38 lopies gewen en die voormalige Protea is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Vanuit ’n internasionale krieketondersteuner se oogpunt is De Villiers Suid-Afrika se Superman. Maar selfs hy sal sukkel om Krieket Suid-Afrika uit die gemors te red waarin die nasionale krieketbeheerliggaam hom tans bevind.

’n Pragbeurt sal dalk net nie goed genoeg wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lodewyk ·

Kniebuiger saai verwoesting in IPL.
(Ewe skielik is neo-Marixisme vervang met kapitalisme.)
Daars hy, ek het die opskrif reggestel vir julle en sommer ‘n subteks bygevoeg..

Anthony ·

Bly eerder waar jy is AB, jy het nie die drama & politiek nodig nie, ons geniet jou steeds op tele, hou ons & jou eie naam hoog , jy is spesiaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.