Amla bêre kolf vir oulaas weg

Hashim Amla. Foto: Marco Longari/AFP.

Surrey het hulde aan Hashim Amla gebring nadat die Suid-Afrikaanse krieketlegende gister aangekondig het dat sy speeldae amptelik iets van die verlede is.

Hoewel die sterkolwer reeds in 2019 – ná die Proteas se ramspoedige Wêreldbeker-veldtog in Engeland – uit internasionale krieket getree het, het hy nog gereeld sy kolf in eersterangse wedstryde geswaai.

Hy het in 2021 ʼn dubbelhonderdtal vir Surrey teen Hampshire geslaan en in die proses met die hele sak Amla-patats vorendag gekom: Van die sweepslaghou vanaf sy beenskutte na die bykantgrens tot daardie swierige kaphou verby die puntveldwerker.

Die bebaarde lopiemasjien het verlede jaar ook sy Engelsman-spanmaats gehelp om met die graafskaplouere weg te stap.

“Hashim het ʼn briljante loopbaan agter die blad en hy kan baie trots daarop wees. Hy het ʼn baie kalmerende invloed op sy spanmaats gehad en ek het gereeld by hom gaan kers opsteek,” het Rory Burns (Surrey-kaptein) gesê.

Amla het uiteindelik 1 712 lopies teen ʼn gemiddeld van 48,91 vir Surrey aangeteken.

AB de Villiers het ook hulde aan sy Protea-spanmaat gebring.

“Jou pad was glad nie maklik nie. Mense het gesê jou tegniek lyk vreemd en dat jy nooit bestendig genoeg sal wees nie. Maar dan het jy op jou eie unieke manier op die veld gestap en net gekolf. Kalm, in beheer en bestendig; altyd gereed om die beste vir jou span en vir jou land te gee,” het De Villiers getwiet.

In ʼn era waar die Protea-kolflys baie broos voorkom, verlang ʼn mens terug na die dae van Jacques Kallis, De Villiers, Graeme Smith en Hashim Amla.

  • Amla se loopbaanstatistieke:

Toetse: Hy het 9 282 lopies teen ʼn gemiddeld van 46,64 in 124 wedstryde geslaan. Hy het 28 honderdtalle en 41 vyftigtalle aangeteken en hy spog met ʼn hoogste telling van 311*.

Eendagkrieket: In sy 181 wedstryde het hy 8 113 lopies teen ʼn gemiddeld van 49,46 gemoker. Hy het sy lopies teen ʼn treftempo van 88 geslaan en in die proses 27 honderdtalle aangeteken.

T20-wedstryde: Amla het 1 277 lopies teen ʼn treftempo van net meer as 132 aangeteken. Hy het 172 grenshoue (waaronder 26 sesse) in sy 44 wedstryde geslaan.

Eersterangse krieket: Hy het in 265 meerdaagse wedstryde 19 521 lopies teen ʼn gemiddeld van 48,55 aangeteken. Hy spog met 57 honderdtalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.