Archer in Kapenaars se aanvalskoker

Jofra Archer. Foto: Twitter.

Op papier moet MI Cape Town beslis een van die sterkste spanne in die SA20-toernooi wees. Want benewens Dewald Brevis, Kagiso Rabada, Rashid Khan en Liam Livingstone het hulle nou ook die dienste van die blitsige Jofra Archer bekom.

Die 27-jarige Archer was Engeland se beste bouler in die 2019-Wêreldbekertoernooi en hy het gereeld kolwers met sy aggressiewe boulwerk laat bontstaan.

ʼn Seer rug en elmboog het hom egter geruime tyd langs die veld gehou, maar hy het onlangs weer sy terugkeer in ʼn opwarmingswedstryd teen die Engeland-toetsspan in Abu Dhabi gemaak.

Hy het die spoedkrane oopgedraai en terstond vir Zak Crawley met ʼn opslagbal raakgeboul. Sy aflewerings is teen 145 km/h gemeet, maar Crawley sal waarskynlik getuig dat dit selfs vinniger was.

Archer kan uitstekend met Rabada op Nuweland kombineer, terwyl Khan se bybreekaflewerings vir die nodige variasie sal sorg.

MI Cape Town speel op 10 Januarie volgende jaar hul eerste wedstryd teen die Paarl Rocks in Kaapstad.

MI Cape Town: Jofra Archer, Kagiso Rabada, Dewald Brevis, Rashid Khan, Liam Livingstone, Sam Curran, Rassie van der Dussen, Ryan Rickelton, George Linde, Beuran Hendricks, Duan Jansen, Delano Potgieter, Grant Roelofsen, Wesley Marshall, Olly Stone, Waqar Salamkheil, Ziyaad Abrahams en Odean Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Goeie spoed, maar enige iets van lyn af, en hy word gebere. Ek hoop ook hy het beter sportsmanskap geleer van 2019 af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.