As-trant: McGrath glo Aussies kan skoonskip maak

Twee Aussie-legendes. Glenn McGrath en Shane Warne stap vir oulaas saam van die veld af teen Engeland. (Foto: Alessandro Abbonizio/AFP)

Die eerste aflewering in die Reeks om die As tussen Engeland en Australië word Vrydag op Edgbaston in Birmingham afgestuur, maar oudergewoonte is die woordgeveg-salvo’s lank reeds afgevuur.

Australië se oorwinning in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap het sy ondersteuners bykomende skietgoed gegee en volgens Glenn McGrath kan Pat Cummins se span sy stem lekker dik maak.

“Hoewel Engeland se onverskrokke benadering my beïndruk, is Australië se boulaanval meer as opgewasse vir die taak,” het die oudsnelbouler gesê.

McGrath, wat in sy speeldae 157 paaltjies in slegs 30 toetse teen Engeland laat spat het, glo dat elke toets ʼn naelbyt-affêre kan wees.

“Daar word egter van my verwag om te sê dat Australië die reeks met 5-0 sal beklink. En ek wil niemand teleurstel nie.”

Talle Australiese krieketliefhebbers stem saam met McGrath – ʼn boulaanval van Cummins, Scott Boland, Mitchell Starc en Nathan Lyon kan die perfekte teenvoeter vir die aggressiewe spel van die Engelsmanne wees.

“Onder Ben Stokes en Brendon McCullum se bekwame toesig het Engeland se ultra-positiewe benadering gewerk – daarvan getuig die 11 oorwinnings in die 13 toetse wat hulle gespeel het. Maar teen Australië kan dinge lelik uitmekaarval,” meen die voormalige snelbouler Jason Gillespie.

Daarteenoor glo Michael Vaughan dat die Bleekbene as’t ware die swaarste kind op die wipplank van dié krieketspeelgrond is.

“Die geskiedboeke sal vir jou sê dat Australië laas in 2001 in Engeland kon wen. In 2019 kon hulle met ʼn soortgelyke span net gelykop teen ʼn gemiddelde Engeland-groep speel. Onder Stokes is die tuisspan nou aansienlik beter en daar is ʼn paar verrassings wat op die Aussies wag,” het die oudkaptein gesê.

Bepalings:

16 tot 20 Junie: Eerste toets op Edgbaston

28 Junie tot 2 Julie: Tweede toets op Lord’s

6 tot 10 Julie: Derde toets op Headingley

19 tot 23 Julie: Vierde toets op Old Trafford

27 tot 31 Julie: Vyfde toets op die Oval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Bazball gaan net sover gaan, wats plan b, om met n beurt en 213 lopies te verloor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.