Australië is die toetskrieket-kampioenspan!

Australië is die wêreldtoetskrieket-kampioenspan. (Foto: Twitter/IKR)

Met die Reeks om die As om die draai het Pat Cummins en kie gewys dat Australië beslis wedstryde in Engeland kan wen.

Die Aussies het vir Indië met 209 lopies in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap oorrompel om hul selfvertroue ʼn lekker hupstoot te gee.

Indië moes ʼn onwaarskynlike 444 lopies vir ʼn oorwinning op die Oval aanteken en hoewel Virat Kohli en Ajinkya Rahane goed voor die paaltjies gelyk het, het Nathan Lyon en Scott Boland ander planne gehad.

Boland – van die “bou vir die man ʼn standbeeld-faam” – het binne ʼn paar aflewerings van Kohli en die gevaarlike Ravindra Jadeja ontslae geraak en daarna was die skrif aan die muur vir die Indiërs.

Nathan Lyon het met drie vinnige paaltjies enige weerstandsplanne gefnuik en Cummins kon die silwerware omhoog hou.

Die Aussie-kaptein het later hulde aan Travis Head en Steve Smith gebring nadat hul spogvennootskap van 285 lopies die kastaiings uit die vuur vir sy span gekrap het.

“Travis speel deesdae briljante krieket en hy plaas die boulers onder druk met sy aggressiewe kolfwerk. Ja, ons was nie altyd op ons beste nie, maar ons het goed gespeel toe dit saak gemaak het.”

Die eerste wedstryd tussen Australië en Engeland begin Vrydag op Edgbaston.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 469/10 in 121,3 boulbeurte: Travis Head 163, Steve Smith 121 en Mohammed Siraj 4/108.

Indië 296/10 in 69,4 boulbeurte: Ajinkya Rahane 89, Shardul Thakur 51 en Pat Cummins 3/83.

Australië 270/8 in 84,3 boulbeurte: Alex Carey 66*, Mitchell Starc 41 en Ravindra Jadeja 3/58.

Indië 234/10 in 63,3 boulbeurte: Virat Kohli 49, Nathan Lyon 4/41 en Scott Boland 3/46.

Uitslag: Australië wen met 209 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Piet, volgens MM lesers sou ons seker gewen het as Brevis in die toets span was

George ·

Die is die tweede een…SA het die nog nooit gewen nie, nog nooit n final gehaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.