Boucher laat Kolpak-spelers, AB dalk weer speel

Mark Boucher. Foto: @OfficialCSA/Twitter

Die Proteas se nuwe afrigter, die ervare Mark Boucher, is reeds in ’n veglustige bui.

“Die Engelse het ’n hele paar goed oor ons in hul media gesê. Maar vir hulle het ek net een antwoord: Pasop vir ’n gewonde buffel, veral wanneer jy in Afrika is,” het hy gesê.

Die 43-jarige Boucher is gister deur Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se tydelike direkteur van krieket, as die Proteas se breier tot die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2023 aangestel.

Enoch Nkwe sal Boucher, oudpaaltjiewagter van die Proteas, se assistentafrigter wees.

Terwyl verwikkelinge langs die veld hoofopskrifte gehaal het, het die Proteas óp die veld ook maar ’n vrot jaar: Hulle was die eerste span wat uit die Wêreldbeker-toernooi in Engeland geboender is, terwyl Indië hulle ’n ordentlike pakslae in die afgelope toetsreeks gegee het.

In moeilike tye kyk jy dikwels na ander vir inspirasie. En Boucher hoef nie veel verder as die Springbok-rugbyspan te kyk nie.

“Vanuit ’n afrigtersperspektief, as jy gekyk het hoe die Springbokke die Webb Ellis-beker in Japan gewen het, was die ervaring van oorsese spelers (soos Francois Louw en Frans Steyn) van onskatbare waarde in hul veldtog.

“Ek sal mal daaroor wees om meer diepte in die span te kry. Dit sal almal op hul tone hou en sommer die standaard van krieket in die land ’n hupstoot gee.”

AB de Villiers in aksie vir die Spartans. Foto: GB Jordaan.

En om dié hupstoot te bewerkstellig, is Boucher heel gemaklik met die moontlikheid dat Kolpak-spelers soos Simon Harmer en Rilee Rossouw dalk weer ’n Protea-kans kry.

Met die T20-Wêreldbekertoernooi om die draai, sal hy selfs bereid wees om met AB de Villiers te gesels.

Die 35-jarige De Villiers het verlede jaar sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig, maar is steeds een van die gevaarlikste krieketspelers op die wêreldverhoog.

“Wanneer jy in ’n Wêreldbeker in aksie is, wil jy graag hê jou beste spelers moet vir jou speel. As ek voel dat AB een van ons beste spelers is, waarom sal ek dan nie met hom gesels nie?

“Ek weet ek is nou eers in die pos aangestel, maar ek mag dalk met ’n hele paar spelers gesels en hoor hoe hulle oor dinge voel.”

  • Boucher en De Villiers se Tshwane Spartans-span speel môre in die eindstryd van die Mzansi Superliga teen die Paarl Rocks.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André André ·

Ons het genoeg van die ‘ou’ manne gesien, dan kan jy en Graeme maar netsowel speler-afrigter wees, bring dan sommer vir Ntini terug en vir Gibbs.

Jimmy ·

Kwotas is steeds in plek. Daar is net plek vir vyf wit spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.