Boulers se kolwe praat deesdae saam

Marco Jansen het saam met Keshav Maharaj die Engelse boulers onder druk op Lord’s geplaas. Foto: Adrian Dennis.

Toe Mark Boucher destyds die afrigtersleisels van die Proteas vasgevat het, was een van sy doelwitte om te sien dat die Suid-Afrikaanse boulers ook ’n noemenswaardige bydrae met die wilgerlat maak.

Vyftig bykomende lopies kan immers die verskil tussen wen en verloor beteken.

Verlede week op Lord’s het Keshav Maharaj en Marco Jansen se vinnige vennootskap van 72 lopies nie net die druk weer vierkant op Engeland se skouers geplaas nie, maar dit het ook ’n reuse-aandeel in die Proteas se uiteindelike voorsprong van 165 lopies gehad.

“As boulers skaaf ons gereeld aan ons kolfwerk gedurende die netsessies. Ons trotseer ander boulers, terwyl Bouch en Justin Sammons (kolfwerk-afrigter) ook gereeld vir ons balle gooi,” het Maharaj op die vooraand van die tweede toets op Old Trafford gesê.

“Dit is lekker om nou die vrugte van die harde werk te pluk, maar dit is ongetwyfeld te danke aan Boucher en Sammons se insette.”

Volgens Maharaj wil Suid-Afrika se topordekolwers ook lopies in die twee oorblywende toetse slaan.

Sarel Erwee (73 lopies) en Dean Elgar (47 lopies) het ’n openingsvennootskap van 85 lopies geniet, maar daarna kon Keagan Petersen (24 lopies), Aiden Markram (16 lopies) en Rassie van der Dussen (19 lopies) nie hul voet op die versnelpedaal hou nie.

“As kolfeenheid wil ons meer honderdtalle slaan en die ouens is beslis oorgehaal om die Engelse boulers onder druk te plaas. Sarel het in die eerste toets gewys hoe dinge gedoen moet word en sy vennootskap met Dean het die grondslag vir ons telling gelê. Ja, die res van die kolwers het nie vlamgevat nie, maar ons weet dat hulle spelers van topgehalte is.”

Die tweede toets begin môre op Old Trafford en die aksie sal vanaf 12:00 op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos 100 ·

Nou dan moet kolwers ook kan boul! Te veel gebeur dit dat kolwers vou en dan moet die boulers die wedstryd probeer wen.

Witbaard ·

vd Dussen speel maar deesdae swak. Ek sal my skaam as die batsman bykans elke wedstryd meer lopies aanteken. Markram is ook maar soos eskom se krag ……..gereeld af.

George ·

Markram is pateties in toetse, weet nie wat hy daar maak nie.

Manie ·

Vervang Markram, sy lopie gemiddeld die afgelope 10 beurte is net 10 lopies. Hope talent, maar zero temperament.

George ·

en Markram is steeds daar…weer uit vir onder 15, avg van 10 na 11 beurte, pa-the-tic

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.