Dankie tog vir David!

David Miller het ’n vegtersbeurt van 101 lopies teen Australië gespeel. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Dankie tog vir David Miller.

Die 34-jarige kolwer het met ʼn eenmanvertoning teen die Australiese boulaanval vorendag gekom om toe te sien dat die Suid-Afrikaners genadiglik meer as 200 lopies in die Wêreldbeker-halfeindstryd kon bymekaar skraap.

Miller se vegtersbeurt van 101 lopies beteken dat Suid-Afrika darem 212 in 49,4 boulbeurte kon aanteken nadat die span vroeër met sy telling op 24/4 gesteier het.

Op ʼn bewolkte dag in Kolkata het Mitchell Starc en Josh Hazlewood die bal die praatwerk laat doen en gepaard met uitstekende veldwerk het hulle van Temba Bavuma (0), Quinton de Kock (3), Rassie van der Dussen (6) en Aiden Markram (10) ontslae geraak.

Binne ʼn oogwink was die hart en siel van die Protea-kolflys terug in die kleedkamer.

Gelukkig is Miller ʼn man vir ʼn krisissituasie en hy kon saam met Heinrich Klaasen (47 lopies) en Gerald Coetzee (19 lopies) darem die kastaiings so ʼn bietjie uit die vuur krap.

Die hotklou‑kolwer het vyf groot sesse in sy beurt geslaan en hy het terstond ook die bal oor die grenstou laat seil om sy honderdtal van Pat Cummins se boulwerk te vier.

Volgens die slim manne met die sakrekenaar is Miller se puik poging die eerste honderdtal nóg deur ʼn speler wat sesde of laer in die kolforde van ʼn Wêreldbeker-uitklopwedstryd gaan kolf het.

Maar met Glenn Maxwell en Mitchell Marsh in sy geledere het Australië al gewys dat hy veel hoër tellings baie suksesvol kan jaag.

Maxwell het die beste eendagkrieket-kolfbeurt ooit teen Afghanistan gespeel, terwyl Marsh die wedstryd vir sy span teen Bangladesj gewen het.

Daar wag inderdaad ʼn opdraande stryd op die Suid-Afrikaners, maar hulle het darem iets op die telbord.

Australië moet nog die lopies maak.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 212/10 in 49,4 boulbeurte: David Miller 101, Heinrich Klaasen 47 en Mitchell Starc 3/34.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

En daar sien hulle hul alies! Arme David kon dit nie alleen doen nie. Maar nou ja, as sekeres se eggos groter as die spel is, gebeur dit. Hulle leer nie uit hul foute nie. Probeer maar weer oor 4 jaar!!!!!

George ·

Die top 4 almal se egos. Die kan nie net op een gepak word nie. Alhoewel hy nie moes speel met besering nie.

George ·

Ons top orde kon nog nooit druk hanteer nie, hoekom ons hoop gehad het vir die lot, weet ek ook nie. Maar nou, gaan rus nou voor julle SA20 gaan jol, dis mos belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.