Dankie tog vir reën in Sydney

Geen spel was moontlik op die derde dag van die Sydney-toets tussen Suid-Afrika en Australië nie. Foto: Twitter.

Eendeweer het beteken dat daar nie ʼn enkele aflewering op die derde dag van die laaste toets tussen die Proteas en Australië in Sydney afgestuur kon word nie.

Vir die Suid-Afrikaners moet dit ʼn bedekte seën wees want die kans is goed dat hulle die reeks met 3-0 sou verloor het as die reën nie saamgespeel het nie.

Hoewel ʼn onbesliste uitslag nou ʼn definitiewe moontlikheid is, is daar steeds twee dae se spel en amper 200 boulbeurte in die wedstryd oor. As die Aussies hul beurt met hul telling op 475/4 sou verklaar, het hulle meer as genoeg tyd tot hul beskikking om die sukkelende Protea-kolwers twee keer uit te boul.

In die vorige toets in Melbourne het die Suid-Afrikaanse kolwers vir slegs 137,3 boulbeurte staande gebly, terwyl hulle in Brisbane vir net 86 boulbeurte kon weerstand bied.

Ja-nee, die tuisspan kan hierdie wedstryd eintlik steeds op ʼn drafstap wen.

Talle ontleders stem saam dat hierdie Protea-span waarskynlik die swakste Suid-Afrikaanse toetsgroep ooit is.

En die statistieke beaam dit heelhartig.

Die kolwers se toergemiddeld wissel tussen 2,50 en 37,25. Daarteenoor het die Australiërs ses kolwers wie se gemiddeld hoër as 50 is. Alex Carey slaan trouens sy lopies teen ʼn gemiddeld van 133.

Die boulers vaar weliswaar ʼn rapsie beter, maar dit lyk of Kagiso Rabada se fut uit is terwyl Keshav Maharaj hopeloos te veel lopies afstaan.

As daar ʼn gekombineerde span ná die afloop van die reeks gekies moes word, sou Anrich Nortjé die enigste Suid-Afrikaner in daardie elftal gewees het.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 475/4 ná 131 boulbeurte: Usman Khawaja 195*, Steve Smith 104 en Anrich Nortjé 2/55.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakkie ·

As hulle voetwerk voor die penne met kolf in die hand maar so goed was soos hul voetwerk met die reendans was toetse dalk 5 dae

Casper ·

Krieket bestaan uit drie afdelings nl
1 As jou openingskolwers nie vennootskappe kan bou nie en kolwer no 3 tot 6 sukkel ook dan plaas jy druk op die hele span.
2 As jou aanvangsboulers nie vinnig deurbrake kan bewerkstellig nie,slaan jou opponente jou stukkend.
3 As jou veldwerk nie van uitstaande gehalte is nie…………. .
Met ander woorde jy faal in al drie afdelings,dan kan jy nie verwag om te wen nie,en natuurlik kort die Boucher faktor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.