David en Rilee se kolwe klap vir Sultans

Rilee Rossouw: Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Rilee Rossouw se kolf doen tans ongetwyfeld die praatwerk vir die Multan Sultans in die Pakistan Superliga (PSL).

Die 33-jarige hotklou het in sy eerste drie wedstryde 189 lopies teen ʼn gemiddeld van 94,50 en ʼn treftempo van 175 gemoker.

Veral sy beurte teen die Quetta Gladiators (78*) en Peshawar Zalmi (75) was deurslaggewend in sy span se oorwinnings en hy het tans die tweede meeste lopies in die reeks geslaan.

Hy is ook op sy aanvallende beste en hy het reeds 30 grenshoue in sy paar wedstryde gemoker – die meeste onder al die kolwers.

Dan is David Miller oudergewoonte die bestendigheid vanself vir die Sultans en hy is veral teen die einde van ʼn kolfbeurt ongelooflik gevaarlik.

Hy het vandag ʼn beurt van 52 lopies vanaf slegs 25 aflewerings teen Islamabad United gespeel en hy het vier keer die bal oor die grenstou gestuur.

Nodeloos om te sê is die Sultans tans die voorste span op die amptelike punteleer.

Miller word tereg as een van Suid-Afrika se beste witbalkrieketspelers nóg gereken. In 151 internasionale eendagwedstryde slaan hy sy lopies teen ʼn gemiddeld van 42,32 en ʼn treftempo van 102,03.

Hoewel hy nog altyd ʼn man vir ʼn krisissituasie was, het hy tydens verlede jaar se Indiese Premierliga behoorlik vlamgevat.

Die 33-jarige kolwer het toe 481 lopies teen ʼn gemiddeld van 68,71 en ʼn treftempo van 142,72 vir die Gujarat Lions geslaan en hy het onder meer drie sesse op ʼn streep teen die Rajasthan Royals geslaan om sy span se plek in die eindstryd te verseker.

“Ek weet presies wat my rol in die span is, ek kry gereeld speelkans en ek geniet my spanmaats se ondersteuning,” het Miller destyds in ʼn onderhoud met Star Sports gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Sit Rilee soos Markram in n Protea trui en hulle begin sommer dan al choke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.