David, Quinny vat vlam in Wes-Indië

David Miller. Foto: GB Jordaan.

Gewoonlik sukkel Suid-Afrika maar lekker by internasionale uitkloptoernooie.  Afgesien van Hansie Cronjé-hulle se sukses by die Wills-toernooi in 1998, kon gʼn Protea-kaptein al ooit die silwerware omhoog hou nie.

Maar met die T20-Wêreldbeker om die draai – die Proteas speel op 24 Oktober hul eerste wedstryd – sorg die wêreldwye mik-en-moker-ligas dat van die span se sleutelspelers wedstrydfiks bly.

David Miller en Quinton de Kock se kolwe het gister die praatwerk vir die Barbados Royals in hul wedstryd teen die Trinbago Knight Riders gedoen.

De Kock het vir Barbados die bal aan die rol gesit met sy 44 lopies van 34 balle. Die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter het ʼn openingsvennootskap van 85 lopies met Kyle Mayers geniet en hulle het beslis die grondslag vir Miller se vuurwerkvertoning gelê.

Miller se warrelwindbeurt van 60 lopies het vyf viere en twee sesse ingesluit en hy het toegesien dat Barbados 194/4 in hul toegelate 20 boulbeurte kon opstapel.

Swaar reën het ʼn invloed op die spel gehad en die Knight Riders moes 132 lopies in 8 boulbeurte vir ʼn onwaarskynlike oorwinning aanteken.

Hulle is egter tot 51/7 beperk en Barbados het die wedstryd op ʼn drafstap gewen.

Die Protea-span vir die T20-Wêreldbeker in Australië: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamsi en Tristan Stubbs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.