Dié kolwers se lopiekrane is nog toe

Faf du Plessis kon nog net 32 lopies in vier wedstryde vir die Joburg Super Kings aanteken. (Foto: X/Joburg Super Kings)

In mik-en-mokerkriekettoernooie is daar altyd ʼn paar sterre wat so ʼn bietjie sukkel om die skitterproses aan die gang te kry.

En die SA20-toernooi is gʼn uitsondering nie. Want vir elke Ryan Rickelton en Jos Buttler moet daar ongelukkig ook ʼn Dewald Brevis en ʼn Faf du Plessis wees.

Kom ons kyk na een of twee van die groot name wat nog nie heeltemal die land se SA20-krieketvelde aan die brand gekolf het nie.

  • Kolwers:

Dewald Brevis (MI Cape Town): 49 lopies in ses wedstryde teen ʼn gemiddeld van 8,16

“Baby AB” het al male sonder tal gewys dat hy oor die nodige talent beskik om boulaanvalle aan flarde te slaan – sy goeie oog en suiwer houespel maak hom ongetwyfeld ʼn krag waarmee daar rekening gehou moet word.

Maar beurte van 5, 5, 8, 10, 0 en 21 wys dat hy tans met sy spelpeil sukkel. Dinsdagaand se groot ses van Marcus Stoinis se boulwerk het die hoop laat opvlam dat hy weer op sy aanvallende beste is, maar hy is van die volgende aflewering op die grens uitgevang.

Tog glo die Kapenaars se afrigtersgroep en sy ondersteuners dat ʼn goeie beurt net om die draai is.

Faf du Plessis (Joburg Super Kings): 32 lopies in vier wedstryde teen ʼn gemiddeld van 8

Vir die afgelope paar seisoene het die 39-jarige strydros se kolf die praatwerk in Indië, Pakistan en die Karibiese Eilande gedoen.

Tog kry hy die wind van voor in vanjaar se SA20-toernooi. Die voormalige Protea-kaptein het nog net drie grenshoue geslaan, terwyl hy met ʼn hoogste telling van tien tevrede moet wees.

Will Jacks het hom weliswaar Saterdagaand met ʼn uitstekende aflewering op die Wanderers skoongeboul.

Quinton de Kock (Durban’s Super Giants): 62 lopies in ses wedstryde teen ʼn gemiddeld van 10,33

Een van die talentvolste krieketspelers wat Suid-Afrika nóg opgelewer het, het ná die Wêreldbeker-toernooi in Indië gesê dat hy klaar is met eendagkrieket en dat hy uitsluitlik op T20-toernooie wil fokus.

Hy het egter in die kleure van die Melbourne Renegades in Australië se Big Bash League gespook om aan die gang met die wilgerlat te kom, en hy kon in die SA20 ook nog net 62 lopies in ses wedstryde aanteken.

De Kock lewer egter steeds skitterdiens agter die paaltjies en hy het Dinsdagaand ʼn paar goeie vangskote van Noor Ahmad se boulwerk benut.

  • Dié week se bepalings:

Woensdag: Joburg Super Kings teen Paarl Royals om 17:30

Donderdag: Pretoria Capitals teen Sunrisers Eastern Cape om 17:30

Vrydag: Paarl Royals teen Durban’s Super Giants om 17:30

Saterdag: Sunrisers Eastern Cape teen MI Cape Town om 13:30; Paarl Royals teen Joburg Super Kings om 17:30

Sondag: Durban’s Super Giants teen Paarl Royals om 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.