Die storie van ’n merkwaardige krieketspeler

Stephan Myburgh speel ’n aanvallende hou vir Nederland op die internasionale verhoog. Foto: Twitter.

Al was hy ’n paar jaar ouer as hulle, het die o.10-krieketspan van Laerskool Silverton steeds grootoog geluister wanneer Meneer vertel hoe Stephan Myburgh ’n ses tot in die skool se vierkant geslaan het.

Vir die o. 10-krieketspelers was die eerste span se Myburgh ’n legende; iemand wie se flitsende kolf gereeld boulaanvalle aan’t flarde geslaan het.

“Om eerlik te wees, aanvallende kolfwerk was nog altyd deel van my spel. Dit is eintlik vreemd, want wanneer ons in die agterplaas krieket gespeel het, moes ek alewig die bal gaan haal wanneer ek dit oor die muur geslaan het. En ek was doodbang vir ons bure se honde!” het die nou 36-jarige Stephan vir Maroela Media (én vir een van daardie o.10-spelers) gesê.

Die agterplaaswedstryde in die Myburgh-huishouding moes uiters mededingend gewees het: Sy ouer broer, Johann, het met welslae vir die Titans en Somerset gespeel.

“My broer was ongelooflik,” het Stephan bygevoeg. “Ons het wedstryde op ons eie kolfblad in die tuin gespeel waar ons die een kant van die tennisbal met maskeerband toegedraai het om meer swaai te bewerkstellig; of ons het in die gang met ’n krieketpaaltjie en uitveër gespeel. Daar was altyd ’n lekker uitdaging sodat ons vaardigheidsgewys kon verbeter.”

Natuurlik het hul susters, Alecia en Jennifer, ook hul rolle as kommentator en tellinghouer met entoesiasme vertolk.

“Stephan kon die bal baie hard slaan. Hy was ongelooflik talentvol en die houe wat hy gespeel het, het my altyd verstom,” het Johann destyds in ’n Maroela Media-onderhoud gesê.

Stephan Myburgh staan voor (derde van links) langs Faf du Plessis. ’n Jong AB de Villiers staan heel links in die agterste ry. Du Plessis was die aanvoerder van Noord-Gauteng se o.11-span, terwyl Stephan die onderkaptein was. Foto: Verskaf.

Die talentvolle Stephan is saam met toekomstige Protea-sterre soos AB de Villiers en Faf du Plessis in Noord-Gauteng se o. 11-krieketspan opgeneem. Tog het sy krieketpaadjie ʼn gans ander roete gevolg.

Hy was tydens twee Wêreldbeker-toernooie vir Nederland in aksie, terwyl hy een van die vinnigste T20-vyftigtalle geslaan het.

“Ek en my broer het saam met Neil McKenzie klubkrieket in Suid-Afrika gespeel en Neil was in 2005 in aksie vir ’n Nederlandse klub. Weens sy Protea-verpligtinge kon hy nie terugkeer nie en hy het ons name as plaasvervangers opgegee.”

Hoewel Stephan nooit beplan het om vir Nederland te speel nie, het hy sy tyd by die klub baie geniet. En weens die beperkte geleenthede wat hy in sy geboorteland gekry het, het hy besluit om ingenieurswese te studeer.

Die Nederlandse afrigter het hom egter gebel en gesê dat hy kan kwalifiseer om vir die Europese land te speel as hy genoeg tyd in die land deurbring.

“My droom was natuurlik om vir Suid-Afrika te speel, maar om internasionale krieket te speel was ’n geleentheid wat ek met albei hande aangegryp het.”

Hy het sy buiging in 2011 vir die Nederlanders gemaak en drie jaar later het hy die kans gekry om sy staal teen die Proteas die wys.

As openingskolwer het hy ’n sleutelrol gespeel in ’n wedstryd waar die Nederlanders amper vir ’n reuse-opskudding gesorg het.

Die Proteas, met De Villiers en Du Plessis in hul geledere, kon net 145/9 in hul toegelate 20 boulbeurte by die Wêreldbeker in Indië bymekaar skraap.

Hy vier een van sy spog-vyftigtalle gedurende die T20-Wêreldbeker van 2014. Foto: Verskaf.

Stephan het soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en 51 lopies van slegs 28 aflewerings gemoker. Sy beurt het agt viere en twee sesse ingesluit en met sy vertrek ná 7.5 boulbeurte het die manne in oranje net 65 lopies benodig om die wedstryd te wen.

Goeie boulwerk deur Dale Steyn en Imran Tahir het egter die wa deur die drif vir die Proteas getrek en die Suid-Afrikaners het met ses lopies gewen.

In dieselfde toernooi het hy ’n vyftigtal van slegs 17 aflewerings teen Ierland getimmer. Aan die einde van die skouspel is hy in die span van die Wêreldbeker opgeneem.

“Ja-nee, die Wêreldbeker van 2014 is steeds een van my gunsteling-herinneringe. Ek dink my vyftigtal teen Suid-Afrika was meer spesiaal en dalk die beter beurt, maar die Ierse vertoning het bygedra dat ons na die volgende ronde van die toernooi kon deurdring.”

Stephan Myburgh het die kans om internasionale krieket te speel met beide hande aangegryp. Foto: Verskaf.

Sou hy wou gehad het dat dinge anders moes verloop, of is hy tevrede met die manier waarop sy loopbaan uitgedraai het?

“My grootste droom was om Suid-Afrika te verteenwoordig, maar ek voel dat die Here my op ’n ander manier geseën het. Ek kon steeds in ’n Wêreldbeker gespeel het, terwyl ek vir my gesin die kans gegee het om die wêreld te sien noudat ons in Europa woon; hoewel Suid-Afrika ons huis bly.”

Hy wil egter nie eendag vir sy krieketvaardighede onthou word nie.

“Ek wil bittergraag onthou word as ’n kind van Jesus. Dit klink dalk vir baie nie na iets nie, maar vir my is dit baie belangrik. Ek wil onthou word as ’n man van waardes, eerlikheid en iemand wat ander altyd met respek hanteer het. Hulle hoef my nie vir my krieket te onthou nie, maar vir my menswees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.