Rekordbreker kyk terug na krieketloopbaan van 20 jaar

Johann Myburgh was ’n krieketspeler wat daarvan gehou het om die toeskouers te vermaak met sy aanvallende spel. Foto: verskaf.

In Februarie 1998 was Johann Myburgh onstuitbaar. Hy was jonk, talentvol en bitter gevaarlik met ’n Kookaburra-krieketkolf in die hand.

In die einste maand en jaar het hy as ’n 17-jarige Pretoria Boys High-skoolseun die legendariese Suid-Afrikaanse kolwer, Graeme Pollock, se rekord verbeter om die jongste speler te word wat ’n dubbele honderdtal in ’n eersterangse wedstryd slaan. Sy 203 lopies is op Tukkies se LC de Villiers-sportterrein teen Oostelikes aangeteken.

“Ek was destyds te jonk om werklik te begryp wat dié beurt beteken het,” sê hy. “Hoewel daar nie veel vergelykings tussen my en Graeme getref is nie – hy is linkshandig en gróót, terwyl ek kleiner en regshandig is – was die verwagting baie groot elke keer as ek uitgestap het om te kolf en dit het my onder kwaai druk as ’n jong speler geplaas.”

Ná die pragbeurt het hy vir ’n uiters suksesvolle SA o. 19-span gespeel wat met sterre soos Graeme Smith, Jacques Rudolph en Jonathan Trott gespog het. Sy krieketpadkaart het hom plaaslik na die Titans gelei, terwyl hy ook die wilgerlat in Nieu-Seeland en in Engeland geswaai het. Hy het juis in Oktober op 38-jarige ouderdom sy laaste krieketwedstryd vir Somerset gespeel.

Hy was vir 20 seisoene ’n professionele krieketspeler.

“Ek dink die besluit om my krieketheil oorsee te soek, was grotendeels deur my gesin beïnvloed: jy wil vir hulle sorg. Die loopbaansekuriteit vir ’n krieketspeler is daar dalk ook effens beter as in Suid-Afrika. My keuse om in Nieu-Seeland en Engeland te speel, was suiwer uit ’n loopbaanoogpunt gewees: om so lank as moontlik aan te hou te speel.”

Dalk was dit omdat hy ouer en wyser was en ’n beter begrip van sy eie spel gehad het, of dalk was dit die toestande, maar hy het statisties beter in Nieu-Seeland (rooibalkrieket) en in Engeland (witbalkrieket) as in Suid-Afrika gevaar.

Tog is hy spyt dat hy nooit die groen-en-goud oor sy kop getrek het nie.

Hy was ’n talentvolle jong speler vir die Titans, vóór hy sy heil in Nieu-Seeland en Engeland gaan soek het. Foto: Cricinfo.

“Ek is ’n Christen en glo dat alle dinge met ’n rede gebeur. En om vir die Proteas te speel was heel moontlik net nie vir my beskore nie. As ek langer in Suid-Afrika gespeel het, kon dinge dalk anders uitgedraai het. Het ek die talent gehad om internasionale krieket te speel? Ja. Maar het ek egter as ’n jong speler verstaan hoe om my talent ten volle te benut? Nee.”

In sy 20 seisoene het hy kolfvennootskappe met verskeie topspelers gesmee – waaronder met Rudolph vir die Titans en die talentvolle James Hildreth vir Somerset. Maar die persoon saam met wie hy dit die meeste geniet het om te kolf, is sy jonger broer, Stephan.

“Ons het saam in Pretoria groot geword en Stephan kon die bal baie hard slaan. Hy was ongelooflik talentvol en die houe wat hy gespeel het, het my altyd verstom. Ek is trots op die feit dat hy al by twee Wêreldbekers vir Nederland in aksie was én een van die vinnigste T20-vyftigtalle in die wêreld geslaan het.”

“Ek het witbalkrieket bo rooibalkrieket verkies. Eendag- en blitskrieket het vir my meer soos ’n spansport gevoel. Ek het daarvan gehou dat jy as ’n veldwerker ook ’n impak op die wedstryd kon maak en veral in my jonger dae het ek lekker rondgeduik en probeer om kolwers uit te hardloop. Dan het ek dit geniet om die bal te moker en het nie geskroom om dit luglangs te doen nie.”

Sy gunstelingbeurt is juis die onoorwonne 103 wat hy van slegs 42 aflewerings vir Somerset teen Essex in ’n T20-wedstryd gemoker het.

“’n T20-honderdtal is iets wat ek graag agter my naam wou gehad het en om dit te doen nét voor my uittrede, was baie spesiaal. Boonop was my pa ook daardie dag op Taunton.”

Hy is tans by ’n private skool in Engeland en rig krieket, gholf en selfs netbal af.

Die toonbeeld van ’n professionele krieketspeler. Foto: verskaf.

“Die grootste les wat krieket my geleer het, is dat daar moeilike tye gaan wees – maak nie saak hoe hard jy voorberei nie, jy gaan een of ander tyd misluk. Dan is dit die keuses wat jy maak wat tel – gaan jy lê, of gaan jy ’n plan maak om jouself te verbeter; nie noodwendig deur jou spel of jou tegniek te verander nie, maar deur om eerlik met jouself te wees en jou sterk punte doeltreffend te gebruik.”

Johann Myburgh was die toonbeeld van ’n professionele krieketspeler. ’n Man wat maklik vir die Proteas kon gespeel het. Maar belangriker as enige iets anders: hy het sy krieket geniet.

• In 108 eersterangse wedstryde het hy 6 841 lopies teen ’n gemiddeld van 40.96 geslaan. In T20-kragmetings het hy 2 056 lopies teen ’n treftempo van 129.14 gemoker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marco ·

Ek respekteer jou Johann. Jy maak ons trots. Nederig beskeie en BAIE talent.

PT ·

Sterkte Johann, onthou jou goed van ons academy training, waar jy ons baie gehelp het met afrigting, jammer jy’t nie die groen en goud aangehad nie, maar jy is n ware voorbeeld vir jong krieketers, op en van die veld af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.