Engeland in Suid-Afrika: ’n Snelboulerfees wag

Mark Wood. Foto: Twitter.

In vanjaar se weergawe van die Indiese Premierliga slaan snelboulers die kitaar: Kagiso Rabada (25 paaltjies), Jofra Archer (20 paaltjies) en Anrich Nortjé (19 paaltjies) tel onder die voorste boulers in die reeks.

Veral Nortjé druk die spoednaald gereeld in die rooi en hy het vroeër die vinnigste aflewering in die geskiedenis van die toernooi afgestuur – ’n weerligstraal van 156,22 km/h.

Nou kan al drie boulers op tuisbodem in aksie wees wanneer Engeland later vandeesmaand vir drie eendagwedstryde en drie T20-kragmetings na Suid-Afrika toer.

En hoewel Archer saam met Ben Stokes en Sam Curran slegs deel van die T20-aksie sal wees, behoort Mark Wood te sorg dat die kwik steeds op die eendagkolfblad styg.

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

Die 30-jarige snelbouler kan ook vinniger as 150 km/h boul en nadat hy nie baie speelkans in Engeland se afgelope toetsreekse gekry het nie, sal hy oorgehaal wees om die Protea-kolwers te laat bontstaan.

“Daar wag ’n opwindende tweestryd: Ek en Jofra teen Kagiso en Anrich,” het Wood gesê.

“Ja, variasies is belangrik, maar daar is geen plaasvervanger vir spoed nie. Tog kan ’n goeie kolwer ’n snelbouler steeds wild en wakker slaan wanneer hy die verkeerde lengtes boul. Dit is egter lekker om te weet dat ander boulers – en nie net draaiers nie – ook ’n invloed op T20-krieketwedstryde het.

“Ek het nie baie goed in die vorige mik-en-mokerreekse teen die Proteas in Suid-Afrika vertoon nie en ek wil graag my staal in die komende wedstryde wys. Ek glo dat ek by die boulers met IPL-ervaring kan kers vashou.”

Engeland se eendaggroep: Eoin Morgan (kaptein), Jonny Bairstow, Jason Roy, Joe Root, Liam Livingstone, Sam Billings, Jos Buttler, Moeen Ali, Lewis Gregory, Tom Curran, Chris Woakes, Adil Rashid, Reece Topley, Olly Stone en Mark Wood.

Engeland se T20-groep: Eoin Morgan (kaptein), Jonny Bairstow, Jason Roy, Jos Buttler, Dawid Malan, Ben Stokes, Sam Billings, Moeen Ali, Sam Curran, Tom Curran, Jofra Archer, Chris Jordan, Reece Topley, Mark Wood en Adil Rashid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Laat ons kyk wie gaan die beker van die veld afdra. Hierdie twee sterk spanne gaan die vonke laat spat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.