Faf en Maxi doen dit weer

Faf du Plessis en Glenn Maxwell is ’n gedugte kolfspan. (Foto: Twitter/IPL)

ʼn Mens kan seker nie moeg word om oor Faf du Plessis te skryf as hy aanhou om die lopiekrane oop te draai nie.

Die voormalige Protea-krieketkaptein het vandag nóg ʼn vyftigtal vir die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga geslaan en hy het weer eens ʼn blitsige vennootskap saam met Glenn Maxwell geniet.

RCB het met sy telling op 12/2 teen die Rajasthan Royals gewankel voordat Du Plessis en Maxwell die kastaiings uit die vuur gekrap het met hul vennootskap van 127 lopies van 66 aflewerings.

Die 38-jarige Suid-Afrikaner is uiteindelik vir 62 lopies uitgehaal, terwyl sy Australiese spanmaat 77 lopies aangeteken het.

Dit is ook nie die eerste keer dat die twee kolwers se flitsende kolwe die boulers onder druk plaas nie.

Hulle het vroeër teen die Chennai Super Kings (vennootskap van 126 lopies) en teen die Lucknow Super Giants (vennootskap van 115 lopies) ook amok gemaak.

En moet ook nie dink dat hulle dit teen flouerige boulaanvalle vermag het nie. Vandag het hulle teen Trent Boult, Ravichandran Ashwin en Yuzvendra Chahal gespeel.

Du Plessis is ongetwyfeld besig om sy kleim vir ʼn plek in Suid-Afrika se T20-groep vir die Wêreldbeker-toernooi af te steek.

Hy het tans die meeste lopies in die toernooi geslaan en dit lyk nie of hy sommer gou verbygesteek sal word nie.

Die RCB-speler het reeds 407 lopies aangeteken, 125 lopies meer as David Warner in die tweede plek.

  • Opsomming van telkaart:

Royal Challengers Bangalore 189/9 in 20 boulbeurte: Glenn Maxwell 77, Faf du Plessis 62 en Trent Boult 2/41.

Rajasthan Royals 77/1 in 8,5 boulbeurte: Yashasvi Jaiswal 42*

  • Rajasthan benodig ʼn verdere 113 lopies om te wen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.