Faf se RCB uit IPL-wedloop

Faf du Plessis en Glenn Maxwell. (Foto: Twitter/RCB)

Dit is neusie verby vir Faf du Plessis en die Royal Challengers Bangalore om vir die uitspeelwedstryde van die Indiese Premierliga te kwalifiseer.

Ondanks Virat Kohli se tweede honderdtal van die toernooi het RCB steeds met ses paaltjies teen die Gujarat Titans vasgeval.

Shubman Gill het met sy onoorwonne honderdtal – hy het ʼn beter treftempo as Kohli gehad én meer sesse geslaan – toegesien dat die Titans die wedstryd in die laaste boulbeurt beklink.

Dit moet ʼn teleurstellende uitslag vir Du Plessis wees.

Die voormalige Protea-kaptein het 730 lopies in sy 14 kolfbeurte teen ʼn gemiddeld van 56 geslaan en hy was gereeld in goeie vennootskappe saam met Kohli en Glenn Maxwell gewikkel.

Die drie kolwers het 1 769 van RCB se 2 502 lopies hierdie seisoen aangeteken en die ander kolwers het gesukkel om die mas op te kom.

“As ʼn mens oor kolfwerk praat, dan het die topvierkolwers baie goed gespeel. Maxwell was ongelooflik, terwyl ek en Virat ook ons deel gedoen het. Ons middelordekolwers was egter ʼn bietjie lig in die broek en ons het gereeld gesukkel om die kolfbeurt op ʼn hoë noot af te sluit,” het Du Plessis gesê.

Dinesh Karthik het verlede jaar gereeld vir ʼn vuurwerkvertoning gesorg wanneer RCB dit nodig gehad het, maar vanjaar het hy met die wilgerlat gesukkel.

In 13 beurte kon die Indiese speler slegs 140 lopies teen ʼn gemiddeld van 11,66 bymekaarskraap.

“Dinesh was ongelooflik verlede jaar en dit was waarskynlik een van die beste seisoene van sy loopbaan. Hy het links en regs grenshoue gemoker. Vanjaar was ʼn soortgelyke vertoning hom net nie beskore nie – dit is maar die lot van ʼn krieketspeler.”

  • Opsomming van telkaart

Royal Challengers Bangalore 197/5 in 20 boulbeurte: Virat Kohli 101*, Faf du Plessis 28 en Noor Ahmad 2/39.

Gujarat Titans 198/4 in 19,1 boulbeurte: Shubman Gill 104*, Vijay Shankar 53 en Mohammed Siraj 2/32.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.