Geduldige kolfwerk nie ’n sonde – sir Geoff

Anrich Nortjé het twee keer van Jonny Bairstow op Lord’s ontslae geraak. Foto: Adrian Dennis/AFP.

In ’n era waar kitskrieket die septer swaai, meen baie ondersteuners dat Engeland se onverskrokke benadering die nodige doepa is om toetskrieket se toekoms te verseker.

Kolwers wat die boulers die stryd aansê, sorg immers vir baie meer vermaak as dié wat teen ’n lopietempo van “net” drie lopies per boulbeurt aanploeter, of hoe?

Maar nadat die Proteas vir Engeland binne drie dae op Lord’s gestoomroller het, word hul benadering links en regs bevraagteken.

En volgens sir Geoff Boycott is dit soms beter om eers die kat mooi uit die boom te kyk voordat jy elke aflewering na die grens wil jaag.

“As Engeland voortgaan om kaalvuis onder topsnelboulers – wat teen 145 km/h boul – in te klim, gaan daar elke keer net een wenner wees. En dit gaan waarskynlik nie ons kolwers wees nie,” het Boycott gesê.

Die 81-jarige voormalige speler is net so bekend vir sy uitgesproke kommentaar as sy presiese kolfwerk en hy het nie doekies omgedraai in sy ontleding van Engeland se spel nie.

“Dit is nie ’n sonde as ’n openingskolwer geduldig wag vir die bal om van sy glans te verloor, of as ’n middelorde-kolwer eers gewoond raak aan die spoed van die baanblad voordat hy sy aanvallende vaardighede uitstal nie. Dit is wat spelers al vir die afgelope 200 jaar doen en dit lyk asof dit taamlik goed werk.”

Kagiso Rabada het vyf paaltjies in Engeland se eerste beurt laat kantel. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Volgens Boycott sukkel die Engelse amper met tonnelvisie sedert Ben Stokes en Brendon McCullum die kaptein- en afrigterleisels vasgevat het.

“’n Span moet by die toestande, die boulers en die wedstrydscenario kan aanpas. Heng, Engeland is nie eens ’n goeie kolfspan nie, maar hulle wil van die beste boulers ter wêreld uitmekaar slaan.”

Tog lyk dit nie juis of Stokes en kie hulle veel aan Boycott se kritiek steur nie.

“Ons kan nie elke keer goeie krieket speel nie en hierdie was een van ons swakker weke. Ons gaan egter nie te lank hieroor tob nie; ons wil nie enige negatiewe gedagtes saam met ons na die tweede toets in Manchester neem nie,” het Stokes ná die Lord’s‑nederlaag gesê.

“Ons het ’n sekere manier waarop ons wil speel. As alles vir ons uitwerk, is ons ’n baie moeilike span om te klop. Hierdie nederlaag is glad nie ’n wekroep vir ons nie; Suid-Afrika het nou net beter as ons gespeel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.