Head, Warner slaan rook uit Engelse

Australië se David Warner. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

Engeland het seker nog wingerdgriep van hul T20-Wêreldbekertriomf, want Australië is tans besig om klappe in die eendagkrieketreeks tussen die twee spanne uit te deel.

Nadat die Aussies die eerste paar wedstryde op ʼn drafstap gewen het, het David Warner en Travis Head vandag amok op die ikoniese Melbourne Cricket Ground (MCG) gemaak.

Die kolwers het albei honderdtalle gemoker en ʼn openingsvennootskap van 269 lopies geniet; die beste vertoning nóg om die eerste paaltjie op die MCG.

Olly Stone het uiteindelik van Warner (106 lopies) in die 39ste boulbeurt ontslae geraak, terwyl Head (152 lopies) ʼn rukkie later sy paaltjie verloor het.

Hulle het egter die wind heeltemal uit die Engelsmanne se seile gehaal en hul filtsende kolwe het vir altesaam 30 grenshoue gesorg.

Hoewel reën die wedstryd na 48 boulbeurte per span verkort het, kon die tuisspan steeds 355/5 in hul toegelate boulbeurte aanteken.

Vir Warner moes sy honderdtal waarskynlik soos manna uit die hemel gewees het.

Die veglustige kolwer het vandeesweek sy misnoeë met Krieket Australië (CA) te kenne gegee nadat hy nou eers toegelaat is om aansoek te doen om sy lewenslange leierskapskorsing te laat hersien.

Die 36-jarige speler was destyds saam met Steve Smith en David Warner een van die skuurpapier-skobbejakke in die 2018-toets teen die Proteas op Nuweland.

“Ek is nie ʼn misdadiger nie; jy moet een of ander tyd geregtig wees om teen iets appèl aan te teken,” het Warner gesê.

“Ek het begrip vir die feit dat ʼn verbod ingestel is, maar dit is verregaande om iemand lewenslank te skors.”

Uitslae:

Eerste eendagwedstryd: Australië wen met ses paaltjies

Tweede eendagwedstryd: Australië wen met 72 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.