Herschelle dink nie Proteas staan ʼn kans

Heinrich Klaasen doen goed in die plaaslike vierdagreeks. Foto: Twitter.

Sedert 2008 het Suid-Afrika nog nie ʼn toetsreeks in Australië verloor nie, tog meen Herschelle Gibbs dat die Proteas op die vooraand van hul jongste Aussie-avontuur nie in hul voorgangers se wenvoetspore sal kan volg nie.

SA Cricket Magazine berig dat die voormalige openingskolwer veral oor die Suid-Afrikaners se (on)vermoë met die wilgerlat bekommerd is.

“Ons beskik oor ʼn wonderlike boulaanval, maar om toetse en reekse te wen moet jy lopies op die telbord hê. Kan ons dit doen? Ons kolwers se gemiddeld is dan minder as 40,” het Gibbs gesê.

Dean Elgar is ongetwyfeld ʼn hardebaard openingskolwer, terwyl Sarel Erwee en Rassie van der Dussen ook al ʼn paar goeie beurte op toetsvlak gespeel het. Maar om doodeerlik te wees – Theunis de Bruyn, Temba Bavuma, Khaya Zondo en selfs Heinrich Klaasen boesem nie noodwendig dieselfde vrees as Graeme Smith, Hashim Amla en kie in nie.

Tog het Klaasen en Kyle Verreynne dubbelhonderdtalle in die plaaslike vierdagreeks geslaan, terwyl Elgar ʼn honderdtal gevier het.

Temba Bavuma het in 2016 sy eerste en enigste toetshonderdtal geslaan. Foto: ANA.

Gibbs is egter steeds skepties – veral wanneer ʼn mens die Protea-kolwers se statistieke met dié van die Aussies vergelyk.

“Ek dink ons kan sukkel om ʼn gelykopuitslag af te dwing, om dan nie eens van ʼn reeksoorwinning te praat nie. Dieselfde storie het in Engeland afgespeel. Loopbaanstatistieke vertel ʼn storie en ek wil rêrig nie so pessimisties wees nie, maar statistieke lieg nie sommer nie.”

Klaasen handhaaf egter ʼn gemiddeld van 180 in die plaaslike reeks, terwyl Verreynne (146), Elgar (72) en De Bruyn (46) ook nie te sleg vaar nie.

Maar die plaaslike boulers kan sekerlik nie met Pat Cummins, Josh Hazlewood of Mitchel Starc vergelyk word nie.

Protea-groep: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Theunis de Bruyn, Themba Bavuma, Khaya Zondo, Rassie van der Dussen, Heinrich Klaasen, Kyle Verreynne, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Simon Harmer, Gerald Coetzee, Marco Jansen, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Glenton Stuurman.

Bepalings:

17 tot 21 Desember: Eerste toets in Brisbane

26 tot 30 Desember: Tweede toets in Melbourne

4 tot 8 Januarie: Derde toets in Sydney.

Internasionale Krieketraad se toetskrieket-kampioenskap:

  1. Australië
  2. Suid-Afrika
  3. Sri Lanka
  4. Indië
  5. Pakistan
  6. Wes-Indiese Eilande
  7. Engeland
  8. Nieu-Seeland
  9. Bangladesj.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Gaan kyk AVG, en sien Temba is so net onder Elgar en ons tweede beste toets kolwer, en dit se BAIE! Ek sien ook dat die reeks n oorloop gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.