Indië laat Wêreldbeker-bywoningsrekord spat

Meer as 1,2 miljoen toeskouers het die Wêreldbeker-krieketwedstryde bygewoon. (Foto: Money Sharma/AFP)

Van Lucknow en Ahmedabad tot Kolkata en Hyderabad: Die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië het ʼn bywoningsrekord laat spat.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) het meer as 1,20 miljoen toeskouers (1 250 307 om presies te wees) hul beursies oopgemaak om ʼn plek op die pawiljoen te bekom.

Die vorige rekord was agter Australië en Nieu-Seeland se naam toe 1 016 420 toeskouers die krieketaksie in 2015 bygewoon het.

Die miljoenste kaartjie is tydens Suid-Afrika se finale groepwedstryd teen Afghanistan in Ahmedabad verkoop, terwyl meer as 90 000 toeskouers die eindstryd tussen Indië en Australië op die Narendra Modi-stadion in die einste stad bygewoon het.

Die Aussies het uiteindelik hul sesde Wêreldbeker-titel ingeoes toe hulle die gasheerland met ses paaltjies geklop het.

Travis Head het ʼn barshou in sy span se suksesvolle lopiejaagtog gespeel en hy het die derde Australiër – naas Ricky Ponting en Adam Gilchrist – geword om ʼn honderdtal in ʼn Wêreldbeker-eindstryd te moker.

Die Proteas is in die halfeindstryd deur die uiteindelike kampioenspan uitgeskakel nadat hulle sewe van hul nege groepwedstryde gewen het.

Quinton de Kock, wat Suid-Afrika vir oulaas op die eendagkrieketverhoog verteenwoordig het, is in die amptelike span van die toernooi opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.