Aussies speel stadion stil vir sesde titel!

Australië is die wêreldkampioenspan nadat hy vir Indië met ses paaltjies geklop het. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Australië het vir die sesde keer in sy roemryke eendagkrieket-geskiedenis die Wêreldbeker gewen toe hy vir Indië met ses paaltjies in Ahmedabad geklop het.

Travis Head het koelkop in die lopiejaagtog gebly en ʼn uitstekende honderdtal geslaan. ʼn Mens kan sekerlik van sy beurt in dieselfde asem as dié van Ricky Ponting (140* teen Indië in 2003) en Adam Gilchrist (149 teen Sri Lanka in 2007) praat.

Die 29-jarige openingskolwer was nou selfversekerd teen die Indiese snelboulers, terwyl sy aggressiewe benadering ook vir Ravindra Jadeja en die ander draaiers onder druk geplaas het.

Saam met Marnus Labuschagne (58*) het hy ʼn vennootskap van 192 lopies om die vierde paaltjie geniet om die fut heeltemal uit die tuisspan se seile te haal.

Toe hy uiteindelik vir 137 lopies op die grens uitgevang is, was die wedstryd reeds in die sakkie en Glenn Maxwell moes net vir ʼn paar vinnige lopies deurskarrel om die kragmeting vir sy span te beklink.

Travis Head (regs) het ’n uitstekende honderdtal aangeteken. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Vroeër het die Aussies – net soos in die halfeindstryd teen Suid-Afrika – in die veld uitgeblink.

Mitchell Starc en Pat Cummins het uitstekend geboul, terwyl dit gelyk het of die veldwerkers met Duracell-batterye gelaai was; só energiek was hul vertoning.

Australië het sy eerste twee kragmetings van die toernooi – onder meer teen die Proteas – verloor, maar ʼn kampioenspan weet presies hoe om die belangrike wedstryde te wen.

Vra net vir die Springbokke op die rugbyveld; of vir Australië op die krieketveld.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 240/10 in 50 boulbeurte: KL Rahul 66, Virat Kohli 54 en Mitchell Starc 3/55.

Australië 241/4 in 43 boulbeurte: Travis Head 137, Marnus Labuschagne 58* en Jasprit Bumrah 2/43.

  • Spanne:

Indië: Rohit Sharma (kaptein), Shubman Gill, Virat Kohli, Shreyas Iyer, KL Rahul, Ravindra Jadeja, Suryakumar Yadav, Mohammed Shami, Jasprit Bumrah, Kuldeep Yadav en Mohammed Siraj.

Australië: Travis Head, David Warner, Mitchell Marsh, Steven Smith, Marnus Labuschagne, Glenn Maxwell, Josh Inglis, Mitchell Starc, Pat Cummins (kaptein), Adam Zampa en Josh Hazlewood.

  • Australië se Wêreldbeker-heldedade: Die Aussies het met die silwerware in 1987, 1999, 2003, 2007, 2015 en 2023 weggestap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

piet ·

Welverdiend. Hulle het die 2 spanne teen wie hulle verloor het vroeer in die toernooi , later in die toernooi geklop.

Treurwilger ·

Welverdiende, foutlose oorwinning deur Aus!
Groot hartseer vir die geesdriftige Indiese toeskouers, wat dwarsdeur die toernooi ‘n gunstiger indruk (op my) gemaak het as dié van vier jaar gelede in Engeland.

George ·

Hulle weet nou maar net van hoe om n final te jol. Well Played Boys!

Colombo ·

Dit is moeilik om te erken dat die Aussies altyd die produk lewer as dit saak maak.Hulle is gebore om op die groot verhoog krieket te speel.

Jacobus ·

Steeds kyk ons die olifant(jie) in die vertrek mis. Welgedaan Aussies!

Frank ·

Big match temperament. En ek glo die Indiese span was nie op hulle vlymskerpste nie. Vroeer het hulle dan so maklik met Aus afgereken……

George ·

Die Aussies se veld werk het van die semi’s 100% beter geword. Indie het van overs 11-20 nie n enkele grenshou gekry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.