IPL-spanne het vertroue in dié SA’ners

David Miller. Foto: Twitter.

Elf Suid-Afrikaners is deur hul Indiese Premierliga-spanne vir volgende jaar se spogtoernooi behou, terwyl Rassie van der Dussen en Corbin Bosch ander franchise-heenkome sal moet soek.

Faf du Plessis, David Miller, Quinton de Kock, Dewald Brevis, Tristan Stubbs, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada, Aiden Markram, Marco Jansen en Dwaine Pretorius sal almal nog vir hul onderskeie spanne speel.

Miller was waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler in vanjaar se weergawe van die toernooi. Hy het 481 lopies vir die Gujarat Titans geslaan, terwyl hy ook met sy sesslaanvermoë teen Rajasthan Royals beïndruk het.

Die linkshandige kolwer het toe drie agtereenvolgende sesse vanaf die laaste boulbeurt van die wedstryd gemoker om toe te sien dat sy span vir die eindstryd van die mik-en-moker-skouspel kwalifiseer.

“Ek weet presies wat my rol in die span is, ek kry gereeld speelkans en ek geniet my spanmaats se ondersteuning,” het Miller in ’n onderhoud met Star Sports gesê.

“Terselfdertyd speel ek nou al vir ’n hele paar jaar en ek verstaan my spel nou baie beter as aan die begin. In druksituasies waai die wedstrydplan dikwels by die stadionvenster uit, maar ek doen my bes om die oorspronklike plan te volg.”

Dewald Brevis in aksie vir die Mumbai Indians. Foto: Twitter.

Dan sal die belowende Dewald Brevis weer vir die Mumbai Indians speel.

Die 19-jarige Pretorianer het weliswaar vanjaar net 161 lopies vir sy span aangeteken, maar hy het beslis sy stempel op die toernooi met ’n blitsige beurt teen die Punjab Kings afgedruk.

Brevis het toe ’n rits sesse in sy beurt van 49 vanaf slegs 25 aflewerings gemoker.

Meer onlangs het hy ook die rekordboeke met sy spogbeurt van 162 lopies vir die Titans teen die Knights herskryf.

Net Chris Gayle (175*) en Aaron Finch (172) kon meer lopies as Brevis in ʼn T20-kolfbeurt aanteken, terwyl hy die jongste Suid-Afrikaner geword het om ʼn honderdtal in krieket se blitsformaat te slaan.

Daarbenewens het hy net 52 aflewerings benodig om sy 150-tal aan te teken; ʼn nuwe internasionale rekord.

Suid-Afrikaners wat weer vir hul IPL-spanne in 2023 sal speel:

Gujarat Titans: David Miller

Sunrisers Hyderabad: Marco Jansen en Aiden Markram

Lucknow Super Giants: Quinton de Kock

Chennai Super Kings: Dwaine Pretorius

Mumbai Indians: Dewald Brevis en Tristan Stubbs

Royal Challengers Bangalore: Faf du Plessis

Delhi Capitals: Anrich Nortjé en Lungi Ngidi

Punjab Kings: Kagiso Rabada.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Na die uitstekende T20 World Cup, moet sekerlik 99% van die span verander
Baie gelees op die platform Dat Brevis nie goed genoeg is op die oomblik nie.
Ek Dink daar is nie n beter tyd om hom en soveel ander jong talentvolle ouens te kies.
Geen world cups in T20 om die draai nie, so geen druk op hulle nie
So wys bietjie waagmoed keurders en bou n jong span, om ouens soos, Nortje, Miller, Quinton, Radaba en Marco Jansen

George ·

Hy het nie sy plek in die WC groep verdien nie, eenvoudig. Hyt n avg van 23 by IPL en 13 by die CPL gehad, niks om oor huis toe te skryf tot die nuwe liga nie. Geen twyfel hy het talent nie, maar om hom in die WC in te gegooi het op daai sou nie werk nie. Hy’s 19, hy kan minstens 3 WC vir ons speel.

JohanR ·

Lyk my net NIEMAND wil vir Temba Bavuma he nie, behalwe vir die SA keurders. En dan maak hulle hom nog kaptein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.