Jos-laaik, Engeland!

Engeland is die T20-Wêreldkampioenspan. Foto: Twitter.

Die weer het saamgespeel en Engeland is die kampioenspan nadat hulle Pakistan in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker op die Melbourne Cricket Ground (MCG) met vyf paaltjies getroef het.

Jos Buttler se spelers het sommer ook die geskiedenisboeke herskryf – hulle is nou die eerste span nóg om gelyktydig met die eendag- én T20-silwerware in hul vertoonkas te kan spog.

Goeie boulwerk deur Sam Curran (3/12) en Adil Rashid (2/22) het toegesien dat Pakistan tot 137/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk word.

Hoewel Haris Rauf en kie goed geboul het om Engeland se gevaarlike kolwers in toom te hou, het Ben Stokes oudergewoonte die wa vir sy span deur die drif getrek.

Die veglustige Engelsman het die wenlopies in die 19de boulbeurt van Mohammad Wasim se boulwerk geslaan.

“Om een of ander rede bevraagteken mense altyd Stokesy se vermoë, maar ek dink hierdie toekenning moet eintlik syne wees,” het Curran gesê toe hy as die speler van die wedstryd aangewys is.

Volgens Buttler is Engeland se vertoning in die eindstryd die kersie op die koek, veral nadat hulle vroeg in die toernooi teen Ierland verloor het.

“Ek is ongelooflik trots op die span. Dit was ʼn lang pad en ons moes ʼn paar veranderinge maak om tot hier te kom, maar ons pluk nou beslis die vrugte van ons harde werk. Dit was ʼn fantastiese toernooi,” het die Engeland-kaptein gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Pakistan 137/8 in 20 boulbeurte: Shan Masood 38, Sam Curran 3/12 en Adil Rashid 2/22.

Engeland 138/5 in 19 boulbeurte: Ben Stokes 52*, Jos Buttler 26 en Haris Rauf 2/23.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.