Kaapse spanne sit SA20-reeks aan die rol

David Miller is een van die Paarl Royals se sterspelers. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Ná die reuseteleurstelling van die afgelope T20-Wêreldbeker in Australië, is die SA20-toernooi die reddingsboei waaraan Suid-Afrikaanse krieket vasklou.

Die komende mik-en-mokerreeks is trouens só belangrik dat die nasionale krieketbeheerliggaam selfs nee vir ʼn paar eendagwedstryde weg van die huis teen Australië gesê het.

Te midde van al die drama is die SA20-bepalings vandag bekend gemaak en krieketliefhebbers kan vroeg in 2023 na ʼn paar askiebelaaide weke uitsien.

MI Cape Town en die Paarl Royals sal op 10 Januarie die bal aan die rol op Nuweland sit. Ses stede (Kaapstad, Durban, Gqberha, Paarl, Pretoria en Johannesburg) sal gasheer vir 33 wedstryde speel.

“Dit is ongetwyfeld ʼn mylpaal om die wedstrydskedule bekend te maak. Dinge raak nou ernstig en ons kan nie wag om te sien hoe van die beste spelers ter wêreld teen mekaar kragte meet nie,” het Graeme Smith, toernooi-kommissaris, gesê.

Tussendeur word daar ook plek gemaak vir ʼn vinnige eendagreeks van drie wedstryde tussen die Proteas en Engeland.

Dewald Brevis. Foto: Twitter.

Hierdie reeks is in 2020 deur die wêreldwye Covid-19-pandemie in die wiele gery en die aksie word op 25 Januarie volgende jaar hervat.

Elke franchise in die SA20-toernooi sal vyf tuis- en vyf wegwedstryde speel, terwyl die uitspeelwedstryde vanaf 8 Februarie in Johannesburg en Pretoria beslis word.

Oudergewoonte sal die Wanderers op 11 Februarie gasheer vir die eindstryd speel.

“Die Wanderers het deur die jare reeds baie onvergeetlike eindstryde aangebied en ons verwag weereens ʼn volgepakte stadion wanneer die twee beste spanne in die toernooi mekaar die stryd aansê.

Al die wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Eerste tien bepalings (vir ʼn volledige bepalingslys, klik hier):

10 Januarie: MI Cape Town teen Paarl Royals (17:30 in Kaapstad)

11 Januarie: Durban Super Giants teen Johannesburg Super Kings (17:30 in Durban)

12 Januarie: Sunrisers Eastern Cape teen Pretoria Capitals (17:30 in Gqberha)

13 Januarie: Paarl Royals teen Johannesburg Super Kings (13:30 in die Paarl)

14 Januarie: Pretoria Capitals teen Sunrisers Eastern Cape (13:30 in Pretoria); MI Cape Town teen Johannesburg Super Kings (17:30 in Kaapstad)

15 Januarie: Durban Super Giants teen Paar Royals (13:30 in Durban)

16 Januarie: Sunrisers Eastern Cape teen MI Cape Town (17:30 in Gqberha)

17 Janaurie: Paarl Royals teen Durban Super Giants (13:30 in die Paarl); Johannesburg Super Kings teen Pretoria Capitals (17:30 in Johannesburg).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.