Kaptein Faf gaan RCB lei

Faf du Plessis is as die nuwe kaptein van die Royal Challengers Bangalore aangewys. Foto: Phil Magakoe/AFP.

Faf du Plessis volg nou in die spore van spelers soos Anil Kumble, Daniel Vittori, Shane Watson en Virat Kohli.

Die 37-jarige Suid-Afrikaner is gister as die Royal Challengers Bangalore (RCB) se kaptein vir die komende Indiese Premierliga-reeks (IPL) aangewys.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid; veral omdat ek ’n oorsese speler is wat ’n groot plaaslike span op die veld lei,” het Du Plessis gesê.

Die voormalige Protea-krieketkaptein is opgewonde oor die leierskaprol wat hy by sy nuwe span sal speel.

Du Plessis was immers vir ’n paar seisoene deel van Chennai Super Kings se suksesverhaal en dit was veral sy vertoning in 2021 wat ondersteuners van die span laat glimlag het: Hy het toe meer as 600 lopies in die toernooi gemoker, terwyl sy 86 lopies in die eindstryd gesorg het dat MS Dhoni die silwerware omhoog kon hou.

Die Suid-Afrikaner is egter by vanjaar se spelerveiling deur RCB opgeraap en hy is terstond gekies om Virat Kohli se kapteinskoene vol te staan.

Hoewel Kohli steeds vir RCB speel, het hy vroeër aangedui dat hy nie meer as kaptein sal optree nie. Die Indiese ster is entoesiasties oor Du Plessis se aanstelling.

“Ek is baie opgewonde om die aflosstokkie in Faf se bekwame hande oor te gee. Ek het hom oor die jare beter leer ken en daar wag ’n opwindende tyd op die span,” het Kohli gesê.

Mike Hesson, RCB se direkteur van krieket, glo dat Du Plessis ongetwyfeld die regte keuse vir die belangrike pos is.

“Faf is nie net ’n speler van wêreldgehalte nie, maar hy is ook ’n baie goeie leier – hy het immers die Proteas in al drie van die spel se formate aangevoer. Hy lei deur ’n voorbeeld te stel en dit is vir enige span ’n inspirasie,” het Hesson gesê.

Diegene wat oor Du Plessis se kolfvermoë twyfel, hoef nie verder as sy onlangse vertoning in die Bangladesj Premierliga kyk nie.

Hy was ’n lid van die Comilla Victorians-span wat die eindstryd gewen het, terwyl hy uiteindelik 295 lopies teen ’n gemiddeld van 36,87 en ’n treftempo van amper 135 gemoker het.

Dalk is sy leierskap net wat RCB benodig om hul eerste IPL-titel in te oes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.