Kaptein Quinny span sy Durbanse seile

Quinton de Kock in aksie vir die Lucknow Super Giants. Foto: Twitter.

Quinton de Kock is as die Durban Super Giants se kaptein in die komende SA20-toernooi aangewys.

Die paaltjiewagter sal aan die stuur van ʼn talentvolle groep wees wat internasionale sterre soos Jason Holder, Kyle Mayers en Reece Topley insluit, terwyl Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Simon Harmer en Kyle Abbott onder die plaaslike bekendes tel.

De Kock het in sy 291 T20-wedstryde reeds 8 497 lopies teen ʼn gemiddeld van 32,93 en ʼn treftempo van 137,55 gemoker. Hy het reeds vyf honderdtalle in dié formaat van die spel geslaan, terwyl hy 53 vyftigtalle agter sy naam het.

By die onlangse Wêreldbekerskouspel het hy soos ʼn vetgesmeerde blits in die openingswedstryd teen Zimbabwe weggetrek.

Sy onoorwonne 47 lopies van slegs 18 aflewerings het so byna vir die Proteas die wa deur die drif getrek voordat reën hul wenplanne deurmekaar gekrap het. Hy het dit met ʼn goeie beurt van 63 lopies teen Bangladesj opgevolg, voordat hy teen Indië, Pakistan en Nederland stoom verloor het.

As openingskolwer beskik hy ongetwyfeld oor die vermoë om wedstryde vir sy span te wen en die Durbaniete sal beslis op sy flitsende kolf steun om vir die nodige momentum te sorg.

Die Super Giants se eerste wedstryd is op 11 Januarie teen die Johannesburg Super Kings in Durban.

Durban Super Giants: Quinton de Kock, Prenelan Subrayen, Jason Holder, Kyle Mayers, Reece Topley, Dwaine Pretorius, Heinrich Klaasen, Keemo Paul, Keshav Maharaj, Kyle Abbott, Junior Dala, Dilshan Madushanka, Johnson Charles, Matthew Breetzke, Christiaan Jonker, Wiaan Mulder en Simon Harmer.

Die span se eerste drie wedstrydbepalings:

11 Januarie: Durban Super Giants teen Johannesburg Super Kings (17:30 in Durban)

15 Januarie: Durban Super Giants teen Paarl Royals (13:30 in Durban)

17 Januarie: Paarl Royals teen Durban Super Giants (13:30 in die Paarl).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Dan kom Februarie, dan is ons spelers weer “uitgeput” ne Rabada? van AL die krieket, maar is altyd reg vir die geldjaag reekse, niks fout daarmee nie, maar moet nie die internationale kalender die skuld gee vir geldgurigheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.